“Hulle gaan deur hel,” het Mariana Symington aan Huisgenoot gesê.

Eloise en haar man, Danie le Roux, skoolhoof van Laerskool Paarl Gimnasium, is die laaste paar weke pal in die nuus. Dit volg nadat ’n egpaar, Sunita en Jacques van Dyk, dood is toe hul huis naby Wellington in die vroeë oggendure van 10 Mei afbrand.

Na dié tragedie het bewerings aan die lig gekom dat Sunita en Danie ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Danie het in 'n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot gesê die gerugte is vals. Eloise het in dieselfde onderhoud gesê sy ken haar man en twyfel nie in hom nie.

Mariana het gesê hulle is baie hartseer oor al die bewerings.

“Dit is onwaar. Dit is so onnodig en ongevraag. Daardie twee mense is engele,” het sy oor Danie en Eloise gesê.

Danie het vroeër in Kitsnuus, die skool se nuusbrief wat aan ouers uitgereik word, gesê hy het die professionele grense oorskry “met iemand wat hy gementor het” en is jammer daaroor, het Huisgenoot vroeër berig

Eloise het vroeër aan Huisgenoot gesê sy en Sunita was soos susters, en sy en Danie het dikwels saam met Jacques en Sunita gekuier.

Volgens Mariana wil hulle nie nog kommentaar lewer oor die saak nie.