Wat sal jy doen as jy op kaalfoto’s van jou dogter aanlyn afkom? Hy is intussen op borgtog van sowat R27 000 vrygelaat, luidens die polisie se verslag oor sy inhegtenisneming.

Christian Amason (45) is Sondag deur beamptes van Hamilton County in hegtenis geneem nadat hy erken het hy het sy 14-jarige dogter aan haar keel gegryp en begin wurg omdat sy nie haar ma wou toelaat om haar ’n pak slae te gee oor die foto’s nie.

Die tiener was by die huis saam met haar ma in North Hickory Valley Road, Harrison, toe hulle begin stry oor die foto’s wat sy in die sosiale media gedeel het.

Lees ook: Playboy Playmate kan tjoekie toe gaan ná sy naakte vrou oor haar liggaam spot

Toe Christian – ’n man van oor die 129 kg – opdaag, het hy tussenbeide getree en sy jongste dogter deur die gesig, op haar rug en bene geslaan.

Sy is na haar kamer, maar haar ontstoke ouers is agterna “wat tot nog woedende woorde aanleiding gegee het”.

Dis toe dat Christian haar met albei hande aan die keel gegryp en gewurg het sodat sy ’n ruk lank nie kon asem kry nie, luidens die polisieverslag.

Die meisie het ses uur later haar ouer suster gebel om haar te kom haal sodat sy die voorval by die polisie kon gaan aanmeld. Daar was steeds rooi merke aan haar lyf.

Lees ook: Naak-skandaal tref Melania Trump

Albei ouers het erken hulle het die plathand ingelê. Haar pa het vertel hy het sy humeur verloor, sy dogter herhaaldelik geslaan en gewurg. Dis toe dat hy in hegtenis geneem is.

Intussen is hy aangekla weens kindermishandeling en -verwaarlosing. Dis nog onduidelik of hy ’n prokureur gekry het en wat die straf kan wees, sou hy skuldig bevind word.

Bronne: wdef.com, newschannel9.com, nypost.com, dailymail.co.uk.