Die wêreld kyk toe in afgryse soos besonderhede oor die Justin Ross Harris-saak na vore kom. Hy het sy 22 maande oue seun ure lank in ’n motor gelos; die baba is gevolglik dood. Justin se aansoek om parool is verlede week geweier nadat ’n regter bevind het daar is rede om hom van moord en kinderwreedheid aan te kla.

Op eie bodem

Vroeër vanjaar is Suid-Afrikaners ook stomgeslaan toe drie kinders (van onderskeidelik vier, ses en 10 jaar oud) dood in hul ouers se motor in Mahikeng aangetref is nadat hulle glo net 20 minute alleen gelaat is. (Lees meer hier.)

Dit is dalk nou winter wees, en die kans dat jy nou sonsteek in ’n motor sal opdoen is minder, maar die polisie maan ouers om nooit hul kinders alleen in ’n motor te los nie.

Wat gebeur in ’n warm motor?

Die Huisgenoot-joernalis Petro-Anne Vlok het in Januarie 2012 40 minute in ’n warm motor deurgebring om te bepaal presies wat met ’n mens se liggaam tydens die ondervinding gebeur. Ons deel haar bevindinge:

Dit is soos om in ’n sauna te probeer asemhaal – dis ondraaglik warm hier in die motor. Ek voel lighoofdig en mislik, en ek sukkel om te dink. Ek strek my hande uit. Hulle bewe onbeheers. My klere is deurweek met sweet en ek dink nie ek het nog vog in my liggaam oor nie. Ek vee my voorkop skoon, maar skaars ’n minuut later vloei die sweetdruppels weer.

Dis maar 30 minute sedert ek in die silwer motor geklim het wat hier in Kaapstad geparkeer staan. ’n Effense bries hou die temperatuur buite 34 °C, maar hier binne is dit ’n versengende 63 °C. Met elke minuut wat verbygaan, styg dit verder. Op 67 °C het ek van die simptome getoon wat met hitte-uitputting verbind word: intense dors, duiseligheid, naarheid en ’n onreëlmatige hartklop. Vir ’n kind kan dit dodelik wees.

In my geval het dit 37 minute geduur, maar ondersoeke toon die temperatuur in ’n motor kan op dae warmer as 35 °C ná 15 minute reeds 67 °C bereik. “ ’n Kind kan sterf as hy in daardie temperatuur gelos word,” waarsku dr. Willem Smit, ’n pediater van Kaapstad. “Hy kan veelvuldige orgaanversaking opdoen.”

Is die kind gelukkig genoeg om te oorleef, kan hy steeds permanente breinskade opdoen. Selfs op taamlik koel, sonnige dae wanneer die temperatuur nie 24 °C oorskry nie, kan die binnekant van die motor binne ’n uur 47 °C bereik, en 80 persent van die temperatuurstyging vind binne die eerste halfuur plaas.

Daarom kan daar voortaan geen twyfel meer wees nie: Ouers wat hul kinders op ’n warm dag in die motor los om net gou-gou by ’n winkel in te draf, plaas letterlik hul kinders se lewe op die spel.

Ekstra bronne: time.com, ER24.co.za, health24.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.