DIT was nou nie juis liefde met die eerste oogopslag toe Anni Hindocha en Shrien Dewani mekaar die eerste keer in

September verlede jaar in Londen ontmoet het nie.

“Hy’t tande soos ’n haas!’’ het Anni haar “pappa” vertel toe sy hom agterna bel. “En ek hou nie van sy klere nie, maar daaraan kan ’n mens seker iets doen.’’

Maar die volgende dag het die 30-jarige Shrien, medeeienaar van ’n rits ouetehuise in Brittanje, die mooi, jong

ingenieur vir ete in ’n deftige restaurant geneem, en Anni het stadig maar seker ontdooi.

Dit het ’n sprokiesromanse geword – en die verlowing was iets waarvan elke jong meisie maar net kan droom.

Toe Shrien vroeg vanjaar besluit Anni is die regte vrou vir hom, het hy die hulp van Sneha Hindocha (27), Anni se

niggie en beste vriendin sedert hul kinderdae, ingeroep.Dit moes die verrassing van ’n leeftyd wees, ’n storie wat hul kleinkinders eendag nog oor en oor sou wou hoor.

Hulle sou in Parys verloof raak, het Shrien besluit, maar alles moes vir Anni ’n verrassing wees.

Hy sou haar in ’n privaat straler soontoe neem.

“Hy wou vooraf vir haar ’n nuwe rok en skoene koop, en ek en Shrien is toe na Selfridges om die goed vir haar te kry,’’ vertel Sneha.

“Ons het ’n oulike swart Karen Millen-rokkie en ’n paar Christian Dior-skoene gekry.

“In die straler het hy haar gunsteling sjokolades, skyfies, sjampanje en ’n rooi roos reg gehad. Toe hulle by die Ritz-hotel in Parys kom, het hy die rok en skoene op die bed laat uitsit, en hy het vir haar ’n haarafspraak bespreek

gehad. Toe eet hulle aandete, en daar het hy die ring op ’n silwerbord gehad . . .’’

Dae gelede is dieselfde man in Engeland in hegtenis geneem ná beweringe in ’n Kaapse hof dat hy die baasbrein agter die moord op sy bruid van net twee weke was.

Wat moet ’n mens dan glo?

“Ek weet nie meer wát om te glo nie,’’ sê Anni se pa, Vinod Hindocha (62), gebroke. “Miskien wil ek nie weet nie. Dis net so onmenslik, so dierlik, wat met my kind gebeur het.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 Desember 2010.