’n Pa kan van moord aangekla word nadat die ma van hul driejarige tweeling Donderdag hul lyke in sy vakansiehuis in Houtbaai naby Kaapstad gevind het.

Lt.kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die man (48) het in die vrou se motor op vlug geslaan. Hy is later in Wynberg in hegtenis geneem.

Die omstandighede rondom die dood van die tweeling, ’n seuntjie en ’n dogtertjie, word ondersoek. Hul ma het hul lykies in Prinsesstraat, Houtbaai gevind, het hy gesê.

Die presiese oorsaak van hul dood moet nog bepaal word.

Die man sal binnekort in die Wynbergse landdroshof op twee klagte van moord en een van motordiefstal verskyn.

Bron: News24