Die oorsaak? Katastrofiese kopbeserings nadat hy haar onder meer verwoed geskud het.

Ellie Butler (6) en ’n sibbe is aanvanklik uit hul ouerhuis verwyder nadat Butler haar glo gewelddadig geskud het toe sy net sewe weke oud was. Hulle is in die sorg geplaas van haar ma se ouers, Neal en Linda Gray. Butler het egter nie bes gegee nie. Hy het ’n hoëprofielveldtog begin om weer toesig te kry.

Al het die polisie, maatskaplike dienste en Neal beswaar gemaak, het ’n gesinshof-regter in November 2012 besluit dis tyd vir “’n gelukkige einde”.

Sy het Ellie en haar sibbe na hul biologiese ouers laat terugkeer.

Neal, wat na die twee omgesien het, het die regter destyds gewaarsku: “Jy gaan bloed op jou hande hê.”

Niemand wou hê dié ontstellende voorspelling moes waar word nie, maar dit het: Op 28 Oktober 2013 het Ellie aan die hand van haar pa gesterf. Haar beserings is vergelyk met dié van mense wat deur ’n jaende motor getref is.

Twee weke voor haar dood het Ellie ’n gebreekte skouer opgedoen. . .

Tydens ’n polisieonderhoud is Butler gevra of Ellie dalk kon sterf nadat sy “met ’n voorwerp geslaan is . . . of teen ’n muur”. Hy het in trane uitgebars. “Ek sou dit nie kon doen nie,” het hy kopskuddend ontken.

Die Grays het in ’n gesamentlike verklaring vertel hoe hulle sukkel om die skok en afgryse oor hul kleindogter se dood te verwerk en gesê hul lewe sal nooit weer dieselfde wees noudat hul “ligstraaltjie” vermoor is nie. Min het Neal geweet hy sou ook binnekort sy vrou verloor. Linda is op die eerste dag van die moordverhoor oorlede; Neal was te siek om te getuig.

Boonop het nog skokkende nuus aan die lig gekom.

Nie net was Butler vir Ellie se dood verantwoordelik nie, haar ma, Jennie Gray, het alles in haar vermoë gedoen het om haar lewensmaat se aandeel hierin te verdoesel.

Op wat luidens berigte beeldmateriaal van geslotekringkameras is, word gewys hoe ’n paniekbevange Gray, ’n voormalige aktrise op die Britse sepie EastEnders, op die dag van Ellie se dood haar werk in Londen verlaat en haastig ’n taxi na die gesin se huis in Sutten haal.

Die motorbestuurder, ene mnr. Greenwood, het getuig sy was desperaat om by haar “siek kind” uit te kom.

Tydens die taxi-rit het sy verskeie oproepe gemaak – vermoedelik het sy Butler gebel. Greenwood sê Gray het verskeie angstige gesprekke gevoer en baie vrae gevra, onder meer: “Jy’t wat gedoen?”

Ellie se ouers het daarna ’n paniekerige oproep na die nooddiensnommer 999 gemaak.

Dwarsdeur die oproep van 15 minute het die paartjie op die operateur gegil en vloek. Butler beweer Ellie het geval, maar suggereer dat sy wel nog asemhaal.

Die operateur vra hulle moet kalm bly dat sy hulle kan bystaan, maar dit help niks. Sy probeer hulle raad gee, maar Butler sê deurentyd: “My dogter haal nie behoorlik asem nie.”

Die enigste probleem met dié oproep is dat dit plaasgevind het twee uur nadat hulle geweet het hul dogter is óf dood óf ernstig beseer.

Hier is die chaotiese noodoproep. Waarskuwing: Kru taal.

Die staat voer aan die paartjie het die tyd tussen Gray se aankoms by die huis en die noodoproep benut om Ellie se slaapkamer te laat lyk asof sy geval het.

Gray het aan Butler se onskuld bly glo. Op 29 Oktober 2013 het sy tydens ’n onderhoud gesê: “Ek glo nie dat Ben dit gedoen het nie.”

Nadat Butler skuldig bevind is aan die moord op sy dogter, het Malcolm Mchaffie van die Kinderbeskermingseenheid in ’n verklaring gesê: “Die sesjarige Ellie Butler is in haar huis vermoor, daar waar sy veilig mos voel, en dit deur ’n gewelddadige pa wat haar moes liefhê en beskerm.”

Hierdie video is vermoedelik van Butler en ’n vrolike klein Ellie wat sorgeloos ’n bal rondskop.

Tydens die hofsaak het Butler die hof daarvan beskuldig dat hulle korrupte kundiges betrek.

Regter Wilkie het hom onder meer bestempel as ’n gewelddadige, dominerende man met ’n slegte humeur wat sy lewensmaat en kinders as trofeë beskou.

Butler hou steeds vol hy is onskuldig. Toe hy ná vonnisoplegging na die selle begelei is, kon hy kwalik sy humeur beteuel. Hy het na die regter gewys en geskreeu: “Ek sal vir die res van my lewe baklei. Ons sal terugkom en jy sal die waarheid hoor.”

Komende van ’n man wat gesweer het hy het nog nooit met die gereg gebots nie – en dit ten spyte van ’n string veroordelings – is die kans goed dat Wilkie se aanduiding dat hy nooit vrygelaat sal word nie, dalk nader aan die kol.

Gray het Butler deurentyd ondersteun, ten spyte van talle vernederende boodskappe waarin hy haar verbaal aangeval en beledig het.

Butler is ’n minimum van 23 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op sy dogter, terwyl

Gray 42 maande tronkstraf opgelê is vir kinderwreedheid en die verdoeseling van ’n misdaad.

Bronne: bbc.co.uk, theguardian.com, thesun.co.uk, mirror.co.uk, dailystar.co.uk