“Is dit ’n wit man?” het Sergei Greyvenstein die polisiebeampte gevra. “Ja,” het die beampte geantwoord.

“Wat het hy aan?” was Sergei se volgende vraag. “ ’n Blou denim en wit T-hemp, en hy is kaalvoet.”

Sergei het ’n sug van verligting geslaak, want sy seun, Ruan Viljoen, is die vorige aand in ’n grys denim by die huis uit, het sy vrou, Anita, nog vir hom gesê.

Sergei het die 400 m gery na waar Ruan se huurmotor in die veld langs die N14-snelweg in Centurion gestaan het.

Toe hy by die motor kom, kry hy die oproep.

Ruan se suster sê hy het die vorige aand sy grys denim uitgetrek en die bloue aangetrek voor hy na vriende toe is.

“Ek het die 400m teruggehardloop tot by my seun. Die polisie het klaar van hom foto’s geneem. Soos hy daar gelê het, het ek hom uitgeken. Sy handjies. Sy lyfie.

“Ek het geweet dis my seun wat daar lê.”

Dit is drie dae nadat Sergei sy seun se lyk daar langs die besige pad uitgeken het. Die trane lê nog vlak oor dié seun, wat hy grootgemaak het sedert hy nege maande oud was.

Ruan se lyk is Sondagoggend op die middelman van die N14 naby die Jeanlaan-afrit gevind ná ’n tref-en-trapongeluk.

Ruan het verlede jaar matriek geskryf aan die Afrikaanse Hoër Seunskool. Hy was besig met ’n oorbruggingskursus by Varsity College, waarna hy sakestrategie wou studeer.

Volgens Sergei was Ruan die vorige aand by vriende. Toe Sergei Sondagoggend sesuur wakker word om werk toe te gaan en Ruan is nog nie by die huis nie, het hy en Anita vervaard Ruan se vriende begin bel. Niemand kon vir hulle sê waar Ruan is nie.

By die werk het Anita vir Sergei gebel om te sê Avis het laat weet die motor staan in die veld langs die N14-snelweg. Ruan het met ’n huurmotor gery nadat hy en sy ma ’n rukkie tevore in ’n klein ongeluk met sy motor betrokke was.

“Dit lyk asof Ruan, terwyl hy op pad huis toe was, beheer oor die motor verloor en in die veld ingery het. Jy kan op die grond die merke sien waar hy probeer het om die motor daar uit te kry,” sê Sergei.

“Ruan se selfoon was pap. Ons vermoed hy het toe besluit om te loop na ’n vulstasie waar hy ons kon bel. Hy het die motor gesluit en in die rigting van Jeanlaan begin stap.

“Terwyl hy langs die snelweg geloop het, moes die motor hom getref het. Ons vermoed hy is deur die lug gegooi van die geel streep tot op die middelman. Op die toneel kon jy die silwer motorparte om hom sien lê.”

Sergei begin die bene in Ruan se liggaam opnoem wat gebreek was. Amper alles was gebreek.

“My kind moes op slag dood gewees het,” sê Sergei.

Nadat Anita die tyding van haar kind se dood in ’n motorongeluk op Facebook geplaas het en bygevoeg het dat die bestuurder weggery het, het ’n vrou hulle gekontak met inligting oor wie dit moontlik kan wees.

Sergei wil nie te veel oor dié inligting uitwei nie. Hy het dit reeds aan die polisie deurgegee.

Intussen is Sergei en Anita besig om alles reg te kry vir Ruan se gedenkdiens, wat môre om 11:00 op die Sorex-landgoed in Centurion gehou sal word.

“Ruan was ’n maltrap. Maar hy was my seun. Hy het begin blom. In alles wat hy gedoen het, het hy voluit geleef.

“ ’n Mens voel so beroof.”