Drie van die sewe Brumby-kinders het Sondag saam met hul pa na die binnenshuise skietbaan in Sarasota, Florida, gegaan waar hy hulle meer van vuurwapenveiligheid en gesinsbeskerming wou leer. Maar helaas. In wat as ’n fratsongeluk bestempel word, het Stephen Brumby (14) gesterf – doodgeskiet deur ’n koeël wat deur sy pa, William Clayton Brumby (64), afgevuur is.

Stephen se broer David (24) en sy 12-jarige sussie, Kristin, het die tragedie aanskou.

In ’n onderhoud met 10News het David dit duidelik gemaak dat sy boetie, Stephen, en sy pa nie ’n fout begaan het nie.

Hy vertel voorts sy pa het ’n klein .22 outomatiese pistool afgevuur. Die koeëldoppie, wat deur David as vuurwarm beskryf word, het teen die muur uitgeskiet, waarna dit weggeskram en by William se hemp ingeval het.

In hierdie video (ter illustrasie) kan gesien word teen watter spoed die koeëldoppie uitgeskop word nadat die skoot afgevuur is.

Sy spontane reaksie was om van die warm doppie ontslae te raak. Sy pistool het glo weer afgegaan, dié keer het die koeël die plafon getref, weggekaats en Stephen, wat in hierdie stadium agter hom gestaan het, getref. Hy is later in die Sarasota-hospitaal dood.

David sê sy pa wou hulle na die skietbaan neem om tyd saam met hulle deur te bring, maar ook om hulle te leer “hoe om ’n man te wees” en hoe om jou gesin te beskerm waar en wanneer nodig.

Hy sê hy kan nie die beelde van sy broer wat bloeiend in sy arms lê, vergeet nie. Stephen was ’n talentvolle seun wat gek was oor visvang, musiek en die ukulele.

Clayton het aan CNN gesê dit was nie die vuurwapen wat sy seun doodgemaak het nie, maar hy self.

“Elke ronde is jou verantwoordelikheid. Wanneer dit afgevuur word, moet jy rekening kan gee daarvan. Dit is wat ek die afgelope twee dae gedoen het, rekenskap gee van my fout.”

Volgens wat berig word, is die gesin verpletter. Maar Clayton is vasbeslote om steeds vuurwapens in die huis aan te hou – ter selfverdediging vir sy gesin en huis.

“Ek kan nie hierdie regmaak nie. Dis ’n groot verlies, maar genadiglik sal ons hom weer eendag sien. Ek het ’n gevoel hy’s iewers op ’n groot meer daar buite.”

Tot dusver is geen klagte teen Clayton aanhangig gemaak nie.

Bronne: wtsp.com, cnn.com, heraldtribune.com, newyorkdailynews.com