Party prys sy ouerskapstyl, terwyl ander dink hy is gemeen en daarop uit om sy dogter te verneder.

Hoe dit ook al sy, ouers is verdeeld oor ’n pa van Kentucky se straf vir sy 10-jarige dogter.

Kevin Jones, ’n rapper van die Amerikaanse deelstaat Kentucky, was die josie in toe hy uitvind sy 10-jarige dogter het oor haar ouderdom gejok en met ouer seuns uitgegaan. Sy het ook skelm uit die huis geglip en profiele op sosiale media geskep, wat teen haar ouers se reëls is, berig BuzzFeed.

Om haar te straf het haar pa haar ’n spesiale T-hemp laat aantrek waarop geskryf staan: “Ek is 10 jaar oud.” Agterop die hemp pryk: “Ek is in gr. 5”.

Kevin dwing nou sy dogter om in haar sogenaamde “ouderdom-aanwysende hemp” skool toe te gaan. Hy het haar ook ’n rugsak met Disney-karakters op gegee.

Kevin het op Facebook geskryf: “Aangesien my pragtige dogter Janiya ’n volwassene wil wees en oor haar ouderdom wil jok en sê sy is 14, 15 en 16: Sy beweer sy is verlief en gaan uit met ’n seun, wat geheel en al teen my reëls is! Ek het agtergekom sy doen dit al ’n geruime tyd. Sy het ook uitgeglip en sosialemediaprofiele oopgemaak – ook teen my reëls! Hier is die gevolge van haar dade – ’n ouderdom-aanwysende T-hemp. Ja, mense, sy is 1,8 m lank en 10 jaar oud.”

Bronne: BuzzFeed, Facebook

VERTEL ONS: Dink jy hierdie pa se straf is van pas of dink jy hy voer sy dogter se straf te vêr? Vertel ons by superma@huisgenoot.com.