’n Australiese man het sy 11-jarige seun, Luke Batty, doodgeslaan by ’n krieketoefening voor omstanders, onder wie kinders.

Die voorval het gebeur in Tyabb, ’n klein gemeenskap van sowat 3 300 mense, sowat 100 km suidoos van Melbourne.

Die seun het Woensdagaand pas sy oefening saam met sy juniorkrieketspan afgesluit toe sy pa hom aanval.

Die seun het noodlottige kopbeserings opgedoen en is op die toneel oorlede. Die polisie is ontbied en het die pa (54) met ’n mes aangetref. Nadat beamptes hom nie kon bedwing nie, het hulle hom in die bors geskiet.

Die man is per helikopter na ’n hospitaal gebring, maar het vroeg Donderdag beswyk.

Die seun se ma was ook op die krieketveld en is getraumatiseer.

Luidens berigte was die pa van die ma vervreem, en was hulle in ’n stryd gewikkel om toesig oor die kind.

'n Facebookblad wat in herinnering vir Luke geskep is, het intussen al oor die 80 000 lede gekry.