James Beeching (35), van Hastings, Engeland, het net 26-34% longfunksie oor. Tog hoop en bid hy en sy vrou, Becky (33), dat hy betyds ’n dubbele longoorplanting sal kry, sodat hy so lank moontlik nog hul driejarige tweeling kan sien groot word.

Dié genetiese toestand veroorsaak dat die longe in ’n klewerige slym gehul word en die lyer mettertyd baie moeilik asem haal. SF is reeds as kleuter gediagnoseer by James, wat duidelik ondanks alles sy humorsin behou het.

Hy het verseg dat dit hom onderkry, en met die hulp van daaglikse fisioterapiesessies en middels om sy simptome te verlig, alles probeer doen wat sy maats doen . . . tot rondhardloop en boomklim.

Maar in sy laat tienerjare het sy immuunstelsel begin sukkel om selfs ligte kwale af te weer. En mettertyd het sy longfunksie verswak tot soms slegs sowat 'n kwart van wat dit behoort te wees. By tye moes hy aanvullende suurstof deur pypies in sy neus begin kry.


“Ek was lank in staat om baie dinge te doen, en relatief aktief, maar later al hoe meer in die hospitaal,” het hy vertel. En ná ’n beoordeling van sy toestand vroeg vanjaar is hy toe op ’n waglys vir ’n dubbele longoorplanting geplaas. As ambassadeur vir die organisasie Live Life Give Life het hy reeds geruime tyd die boodskap help uitdra oor hoeveel orgaanskenking vir mense in nood en hul geliefdes kan beteken.

Maar James is ook ’n realis, en daarom is hy besig om ’n aangrypende foto- en videoversameling saam te stel vir die kostelike Logan en Isobel, duidelik hul pa se hart se punt. Dié herinnerings dek alles van uitstappies tot karaoke-sessies en slaaptydstories. 

“Ek het ’n hardeskyf met omtrent al die foto’s en videogrepe wat al ooit van die kinders en ons geneem is . . . sodat hulle daardeur kan kyk wanneer ek nie meer daar is nie,” het James vertel. Hieronder is ook videogrepe waarin hy self regstreeks sy situasie aan die kinders verduidelik, hoe hy oor hulle en hul ma voel, en sy wense vir hul toekoms.

“Ek wou hê hulle moes my sien en hoor; as ek dalk oor ’n paar jaar weg is, kan hulle miskien nie later daardie herinnerings oproep nie. Nou het hulle iets om hulle daarmee te help, ook vir wanneer hulle oud genoeg is om die dood beter te verstaan.”

Maar vir eers bly hy en Becky, ’n laerskoolonderwyseres, optimisties dat die jong gesin nog heelwat tyd saam sal hê. “My longe is al kwaai beskadig deur talle ontstekings weens SF, dus wag en hoop ek nou vir die geskenk van lewe,” het James op Live Life Give Life se webtuiste vertel.

“Om op ’n oorplantingslys te wees, is die vreesaanjaendste, maar ook die opwindendste ding. Om daardie oproep te kry . . . die gedagte om dan skielik van my gesin af weg te moet wees vir sulke ingrypende chirurgie maak my nogal beangs. Maar die wete dat ek heelwat meer tyd saam met my pragtige vrou en kleingoed sal hê, sal ook wonderlik wees.

“Soos my lyf nou agteruitgaan, sal ek oor ’n paar jaar nie meer hier wees nie. As ek dus deur die groothartigheid van ’n skenker my kinders kan sien grootword . . . wel, daardie mens sal in my oë ’n ware engel wees.”

Bronne: livelifegivelife.org.uk, uk.news.yahoo.com, cff.org, Facebook, YouTube