Hy het saam met die ander ouers na hul kinders se kunswerke gekyk en dit bewonder. En sommer so terloops 'n foto geneem van een van die vraelyste wat Christopher ingevul het.

Dit was eers toe hy tuis weer na die vraelys kyk, dat Christopher se antwoorde hom soos 'n vuishou getref het.

"Ek was seergemaak; ek was verpletter en het probeer om 'n oplossing te soek," het hy aan News12 gesê.

Maar wat het Bob so erg ontstel? Dit was nie die feit dat Christopher outisties is nie; daarmee leef hulle immers die afgelope 11 jaar al saam. Dit was wat Christopher op van die basiese vrae geantwoord het, wat Bob so hard getref het.

Gevra wie sy vriende is, kon hy net antwoord: "Niemand".

Bob het besef dat hierdie antwoord van sy jongste seun nie net daar moet bly nie. Dit was tyd om die wêreld bewus te maak van die uitdagings waarmee kinders soos Christopher daagliks moet worstel.

Bob het hom tot Facebook gewend en het so die eensaamheid van Christopher, en ander soos hy, met sy vriende op dié sosialemediaplatform gedeel. Lees die volledige plasing hier:

Daarin vertel Bob onder meer hoe graag Christopher wil hê 'n maat moet by hom kom oorslaap.

"Natuurlik," was Bob se reaksie. "Wie wil jy nooi?"

Christopher het net sy arms gewaai en stilgebly. Hy kon nie antwoord nie, want hy het nie 'n naam gehad nie. Hy het nie 'n vriend gehad nie. Volgens Bob het Christopher nog nooit 'n "regte" vriend gehad nie.

Bob skryf voorts dat dit duidelik was dat Christopher bitter graag deel van 'n groep wou wees. Maar weens sy beperkings is dit moeilik vir sy klasmaats om hom in te sluit by hul bedrywighede.

Bob pleit by diegene wat kinders het, om hul kinders te vertel dat kinders met spesiale behoeftes veel meer verstaan as waarvoor hulle erkenning kry. Hulle kom agter wanneer hulle agteraf geterg word; soms selfs oop en bloot. Hulle kom ook agter wanneer hulle uitgesluit word.

"Glo my, dit maak hulle seer. Selfs al is dit nie noodwendig duidelik vir jou en my nie."

Toe doen Bob die volgende stap, iets wat hy vir die eerste keer op Facebook sou doen. En dis om twee gunste te vra.

"Een: Deel hierdie plasing op jou tydlyn. Bewusmaking en empatie is al oplossings waaraan ek kan dink.

"Twee: Praat met jou kinders. Wys hulle die video van die Florida State-voetbalspeler.

Hy sê voorts die internet is vol goedvoel-stories.

Bob meld nog 'n paar soortgelyke suksesverhale en spreek die hoop uit dat dit kinders dalk net meer bewus daarvan kan maak hoe besonders dit is om kinders in te sluit wat 'n bietjie anders as hulle is. En hy praat nie net van diegene wat reeds diagnoseer is nie.

"Ek bedoel dit vir elke kind. Elke. Enkele. Een.

"As jy ná hierdie plasing 'n gesprek met jou kind het oor empatie en die insluiting van diegene wat anders van die res is, en hulle dapper genoeg is om weg te breek van die beperkings wat hul vriende dink 'koel' is, dan sal ek voel dat Christopher se stem gehoor is."

Kort voor lank het dit die internet aan't gons gehad. Die plasing is reeds meer as 50 000 keer gedeel en het ongelooflike reaksie wyd en syd uitgelok.

Bronne: indy100.com, newjerseyne.news12.com, Facebook, abcnews.go.com