’n Facebook-plasing deur die gewilde blogger-pa Clint Edwards het onlangs soos ’n veldbrand op die internet versprei nadat hy by sy kerk iets ontstellends ontdek het. 

’n Bank wat teen die muur buite die toilette gemonteer was, is skielik verwyder. Dit klink dalk na ’n vreemde ding om oor ontsteld te wees, maar Clint het dit gebruik om doeke op te ruil.

Hy kon nêrens anders sy kind se doek vervang nie, sê Clint, want die enigste ander gerief hiervoor is in die vrouekleedkamer. 

“As die pa van ’n jong kind verpes ek dit regtig wanneer ek nie (weg van die huis) my kind se doek kan ruil nie,” sê hy in sy plasing.

“Dit is nie te sê ek geniet dit om om ’n wriemelende kleuter vol poef se doek te ruil nie. Ek geniet dit nie. Niemand geniet dit nie. Maar ek verpes dit nog meer om my vrou alle doeke te laat ruil. Die hele ouerskapsding is ’n vennootskap.”

Dit pla Clint veral wanneer hy en sy kinders sonder sy vrou by ’n winkelsentrum is, want nie een van die manskleedkamers het ruilgeriewe nie. Gevolglik moet hy die doek dikwels in sy voertuig gaan ruil, wat uiters ongerieflik is.

“Ek het baie empatie met enkelpa’s met jong kinders wat dit alles sonder hulp doen,” sê hy.

Clint het ook gesê pa’s wat voel dit is onnodig om hul vrou te help, laat alle pa’s sleg lyk. 

“As jy ’n pa is wat hier lees en jy weier om jou kind se doek te ruil en sien dit nie as ’n probleem nie: Los dié nonsens! Jy laat ons almal sleg lyk. En as jy ’n onderneming is met ruilgeriewe in beide soort kleedkamers, is jy tops!”

’n Week nadat Clint die saak van die verwyderde bankie met sy kerk opgeneem het, het ’n pragtige verrassing in die manskleedkamer op hom gewag. 

“Ek daag een Sondag op en sien dit. Dit is ’n klein verandering. Dit is een manskleedkamer uit ’n miljoen. Maar vir my as ’n betrokke pa wat vir my kind wil sorg, is dit ’n groot oorwinning.”

Een kleedkamer afgehandel. Net nog ’n paar om te pak . . . 

Bronne: Facebook, Jacaranda fm, Cosmopolitan