isaiah-body-cast-0
Nathan Weitzel (29) het klein Isaiah op 21 Augustus park toe geneem en die moord daar beplan.

Hy het glo aan ondersoekbeamptes gesê hy het in ’n buurt teen 129 km/h gery om “my seun te probeer doodmaak. Ek het dit met opset gedoen.” Nadat hy gesoek het vir ’n “goeie plek om te verongeluk”, het hy met sy motor in ’n geparkeerde motor vasgery.

Lees ook: Kleuter in die pad veroorsaak ontstellende vragmotorongeluk

Luidens hofstukke het hy dit gedoen omdat “hy nie gedink het hy is opgewasse genoeg om ’n kind groot te maak nie”.

Hy het ook erken hy was ten tyde van die ongeluk onder die invloed van kokaïen. Isaiah het harsingskudding opgedoen en sy been gebreek en ’n sny op sy voorkop moes met 20 steke geheg word.

Ooggetuies sê die ongeluk was afgryslik om te aanskou.

“Daar was geen remmerke nie; net die aaklige geluid,” sê Cindy Rosa, ’n ooggetuie wat die 911-noodnommer gebel het. “Ek het ’n kind hoor huil, maar hom aanvanklik nie gesien nie. En toe sien ek die baba se kop en hoe die pa hom slaan asof hy geïrriteerd is met die huilery.”

Lees ook: Dié vyfjarige het haar ma en boetie se lewe ná ’n motorongeluk gered

Nancy Lopez, Isaiah se ma, sê: “Ek is sprakeloos. Ek het net ineengesak, begin huil en gesê: ‘My babaseuntjie, my arme seuntjie.’” Nancy, wat nie romanties betrokke is by Nathan nie, deel toesig met hom. “Hy moet vir lank tronk toe gestuur word.”

Nathan is van ’n aantal oortredings aangekla, insluitend poging tot moord, kindermishandeling wat tot ernstige beserings gelei het en aanranding.

’n GoFundMe-blad is opgestel om te help betaal vir Isaiah se hospitaalrekening terwyl hy tuis aansterk. “Hy is so ’n sterk seuntjie en ek dank God elke dag dat hy leef en gesond word. Hopelik sal hy eindelik weer kan loop,” sê Nancy.

Bronne: independent.co.uk, metro.co.uk, fox2now.com, kdvr.com