Hy is Woensdag doodgeskiet toe hy huiswaarts gekeer het ná hy sy kind by ’n dagsorgsentrum in Atlantis afgelaai het. Die man het op die toneel in Ardeness-straat, Robinvale, beswyk. Hy was nog in sy motor toe hy noodlottig gewond is.

Barbara Rass, wyksraadslid, sê sy het na die toneel gegaan nadat werknemers wat vir die uitgebreide openbare werke-program werk, haar laat weet het dat hulle nie hul werk kan doen nie omdat die “koeëls rondvlieg”.

Sy sê die man is glo nie doelbewus deur die tieners geteiken nie, maar dat hy in hul kruisvuur beland het. Sporadiese skietvoorvalle vind glo gereeld die laaste tyd in Robinvale plaas.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig en gesê die viertal - van 15 tot 18 jaar oud - sal in die plaaslike landdroshof verskyn sodra hulle aangekla word.

Enigiemand met meer inligting word dringend versoek om CrimeStop by 08600 10111 te bel, of ’n anonieme SMS aan Crime Line by 32211 te stuur. ’n SMS kos R1. Inligting kan ook aanlyn aangemeld word by www.crimeline.co.za

Bron: news24.com