Die eiendomsmiljoenêr Maurice Laboz, wat vroeër vanjaar oorlede is, het in sy testament vroeë bonusse aan sy dogters beskikbaar gestel mits hulle reg trou, ’n goeie werk kry en nie eens daaraan dink om kinders buite die eg te kry nie.

Die Laboz-meisies, Marlena (21) en Victoria (17), sal elk R162,5 miljoen erf wanneer hulle 35 word. Maar hulle kan voor die tyd al van die geld in die hande kry as hulle hul pa se reëls vir die smalle weg volg. Byvoorbeeld:

  • Marlena sal R8,6 miljoen kry as sy trou, maar net as haar man ’n beëdigde verklaring onderteken waarin hy beloof om sy hande van die geld af te hou.
  • Sy sal nog R12,5 miljoen kry as sy “aan ’n geakkrediteerde universiteit” gradueer en “in 100 woorde of minder beskryf wat sy met die geld wil doen”. Die trustees wat haar pa aangestel het om ’n ogie oor haar geld te hou, sal haar opstel moet goedkeur.
  • Albei dogters kry ’n groot aansporing om teen 2020 ’n goeie salaris te verdien. Elke jong vrou is gewaarborg om ’n jaarlikse uitbetaling te ontvang wat gelyk is aan drie keer die inkomste wat op hul persoonlike federale belastingopgawe verskyn.
  • As die dogters kinders het en nie buite die huis werk nie, sal die trustees elke jaar op 1 Januarie vir elkeen 3 persent van die waarde van hul trust gee. Daar is ’n vangplek: die geld sal net uitbetaal word vir ’n “kind wat binne die eg gebore is”.
  • Die susters kan dieselfde bedrag verdien deur “ ’n versorger” vir hul ma, Ewa Laboz (58), te wees, van wie hul pa besig was om te skei. Sy het niks in die testament gekry nie en het aangedui sy sal dit beveg.

Maurice het die testament in April verlede jaar onderteken, sowat nege maande voor sy dood op 77. Hy het ’n fortuin van R625 miljoen nagelaat.

Hy het dit geregverdig dat hy sy vrou uit die testament gelaat het deur hom te beroep op ’n “voorhuwelikse ooreenkoms wat haar regte beperk,” volgens die dokument.

Ewa het verlede maand regsdokumente ingedien waarin sy aanvoer sy verdien ’n deel van die erflating, want sy was steeds met haar man getroud toe hy dood is.

Die res van Maurice se rykdom sal geskenk word aan liefdadigheidsorganisasies, onder meer die Michael J. Fox-stigting vir navorsing oor Parkinsonsiekte en Meals on Wheels.

Bronne: Daily Mail, News.com.au