’n Amerikaanse pa wat daarvan beskuldig word dat hy sy vyfjarige dogtertjie by ’n brug afgegooi en so haar lewe geneem het, kan die doodstraf opgelê word.

Polisiebeamptes het John Jonchuck (27), van die deelstaat Florida, in Januarie 2015 laat aftrek nadat hy na bewering die spoedgrens oorskry het. Toe hulle hom voorkeer, het hy sy dogter, Phoebe, afgegooi by die brug waarop hy stilgehou het. Sy het amper 19 m ver tot in yskoue water geval.

Paramedici het haar uit die water uitgeduik, maar sy is in die hospitaal dood verklaar.

Die hof het bepaal John moet in ’n psigiatriese hospitaal geëvalueer word omdat hy vermoedelik psigoties is en aan ’n persoonlikheidsteuring ly.

Hy het Phoebe glo die aand van haar dood uit haar bed gaan haal en in die koue met net ’n T-hempie en kortbroekie agter in sy motor gelaai, voor sy jaagtog begin het.

"Julle het geen vrye wil nie!" het John glo vir die polisie geskree voor hy sy dogtertjie opgetel, bo-oor die brug se reëling laat hang en haar gelos het, berig die Tampa Bay Times.

Dit blyk John het ernstige sielkundige en gedragsprobleme en het al meermale met die gereg gebots. Sy oom het hom as "’n monster" bestempel en ’n vriend van dié het gesê John is "boos gebore".

Die psigiatriese hospitaal waar John ondersoek is het hierdie week bevind John is wel geskik om verhoor te word. Staatsaanklaers het aangedui hulle sal die doodstraf aanvra en hom vir moord vervolg.

Michelle Kerr, Phoebe se ma, het aan die Tampa Bay Times gesê "sy voel asof sy kan asemhaal" nou dat sy weet John gaan vir Phoebe se dood verhoor word.

Bronne: BuzzFeed, Tampa Bay Times, CBS News.