’n Pa van Texas oortree die wet deur sy outistiese dogter, wat haarself seermaak, met medisinale dagga te behandel.

daggapamain

Kara Zartler (17) en haar tweelingsuster, Keely, is op 26 weke gebore en slegs 10 uur ná hul geboorte het sy bloeding op die brein gekry. Nou ly sy aan serebrale verlamming en ernstige outisme en kry episodes waar sy haarself ernstig beseer.

“Ek woon in Texas en behandel my dogter (Kara) onwettig met dagga,” skryf haar pa, Mark Zartler, by ’n video wat hy verlede maand op Facebook gedeel het. "Ons vertel ons storie in ’n poging om Texas se wetgewing oor dagga te laat wysig.

“Kara het nog altyd ’n span dokters gehad. Ons hou aan om opsies vir behandeling te oorweeg. Op die oomblik neem sy agt soorte voorgeskrewe medisyne. Ons is nie gekant teen dokters nie; Cannabis is net verreweg die beste medisyne om akute gevalle mee te behandel.”

“Die video wys tipiese behandeling en die uitkomste. Dit is gewasemde dagga. Wasem is nie skadelik nie. Dit is nie rook nie. Hoë THC-dagga-behandelings werk altyd. Dit stop Kara se akute gevalle 100 persent van die tyd. Dit stabiliseer haar gemoed en dit hou gewoonlik die hele dag.

“Ons sien geen verlies aan beheer of nadelige newe-effekte nie; inteendeel, sy het die afgelope jaar ongelooflike vordering gemaak. Sy is meer bewus en gefokus en sy het meer lewensvaardighede.”

Mark het die inskrywing gedeel om sy steun toe te sê aan die wettiging van medisinale Cannabis.

In Suid-Afrika is dagga onwettig, maar wanneer pres. Jacob Zuma na verwagting in Mei vanjaar ’n wysigingswet op medisyne en verwante stowwe onderteken het, sal lisensies uitgereik kan word aan diegene wat medisinale dagga wil kweek en vervaardig.

’n Kalm Kara verlede jaar op haar verjaardag nadat sy met Cannabis behandel is.

Bykomende bron: Washington Post