Almal sê altyd jou pa weet die beste, maar in die geval van Cassie Martin se pa, Chris, weet ons nie so mooi nie.

Dié pa het onlangs besluit om sy dogter te terg deur van haar vele Snapchat-selfies met homself in die foto te herskep en dit het skreeusnaakse gevolge gehad.

In een selfie sit Cassie met getuite lippe, haar blonde hare los oor haar skouers en met ’n blarekroon op haar kop. Chris het ywerig ingespring en sy allerbeste probeer om hierdie foto van sy dogter na te maak.

Hy het selfs haar tatoeëermerke oorgeteken. Hy tuit sy lippe nes sy dogter. Ons is net nie so seker hoeveel moeite hy met sy blarekroon gedoen het nie! Cassie het haar pa se lagwekkende manewales op Twitter en Facebook gedeel waar sy luidkeels skel: “My pa val my lastig op sosiale media!” Tog het Chris se grap ’n onverwagte gevolg gehad. Cassie het byna oornag meer as 11 000 volgelinge op Facebook gekry en haar foto het meer as 25 000 “likes” gekry. Boonop is dit amper 16 000 keer gedeel. Hoewel ons twyfel of Chris ooit regtig in dieselfde blommebroek moet verskyn soos sy dogter in hierdie foto, verdien hy ’n pluimpie vir die feit dat hy haar in ’n internetsensasie omskep het.

Al is dit net vir ’n paar dae.