[caption id="attachment_116470" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

’n Gesonde babadogtertjie, Julilee, is sowat ’n week gelede veilig gebore op pad na die Olivedale-hospitaal in Randburg.

Toe die gesin by die hospitaal opdaag, het die baba, toegedraai in ’n handdoek, op haar ma se bors gelê, het Bets Welman, algemene bestuurder by die Netcare Olivedale-hospitaal gesê.

Lees ook: Ontmoet Freddie! One Direction-ster wys sy eersteling

Die ma, Tshepiso Mbambisa, het op Woensdag 27 Januarie om 01:00 ongemaklik begin voel. Sy’t eers gedink dis net Braxton Hicks-kontraksies, normale simptome laat in ’n swangerskap wanneer die baarmoeder van tyd tot tyd saamtrek.

Die pa het bekommerd geraak omdat die kontraksies al hoe gereelder gebeur het en het toe sy vrou in die motor gelaai en hospitaal toe gery, maar hul rit hospitaal toe is deur oggendverkeer vertraag.

“Mnr. Mbambisa moes teen die kant van die pad parkeer en op die ou end omstreeks 07:15 self help met sy dogter se geboorte,” sê Bets.

Lees ook: Gewilde sanger word pa!

Met hul aankoms by die hospitaal het die vroedvroue reggestaan om Tshepiso te help. Die baba, wat 2.8kg geweeg het, is in ’n bababedjie geplaas terwyl haar ma versigtig tot in ’n rolstoel gehelp en by die kraamsaal toegelaat is.

“Die trotse ouers het hul bondeltjie vreugde Julile genoem en dit gaan goed met ma en baba,” sê Bets.

“Die ouers het die geboorte maklik hanteer en ek’s baie trots op die span want hulle het baie goed gedoen,” het Deborah Sieff, die hospitaal se skakelbeampte vir pasiënte, gesê.

Bron: News24