Voor selfdegeslaghuwelike wettig was in Amerika, het enkele gay paartjies die stelsel gefnuik deur aansoek te doen om wettige aanneming sodat hulle dieselfde voordele kon geniet as heteroseksuele, getroude paartjies, byvoorbeeld erfregte en belastingkortings.

Dit was die geval met Nino Esposito (78), wat drie jaar gelede sy lewensmaat, Drew Bosee (68), aangeneem het. Maar nou het dié uitweg ’n struikelblok in hul pad na die kansel geword.

“Ons het nooit gedink dit sou in ons leeftyd wettig wees om in Pennsilvanië te trou nie,” sê Drew oor sy jare lange droom om met sy lewensmaat van 40 jaar te trou. Hy sê die aanneming het hulle “die geldigste moontlike uitweg” destyds gebied.

Hulle probeer nou om die aanneming nietig te laat verklaar sodat hulle kan trou, maar ’n regter het hul aansoek van die hand gewys en gesê ’n aanneming mag net nietig verklaar word in gevalle van bedrog.

Regter Lawrence O’Toole sê hoewel hy sensitief is vir die paartjie se begeerte om te trou, “kan hulle dit nie doen nie omdat hulle volgens die wet pa en seun is”.

Nino en Drew is hartseer oor die ingewikkelde regsproses omdat hulle gehoop het om ’n troulisensie te kry op dieselfde dag dat die aanneming nietig verklaar sou word.

“Ons het $80 kontant (sowat R1 100) by ons gehad en was reg om oor die pad te stap en ons lisensie te kry. Maar regter O’Toole het ander idees gehad,” sê Nino.

Bronne: cnn.com, nydailynews.com