Piet en Sallas de Jager

DEUR ’n waas sigaretrook pen die twee gesigte jou vas. Piet de Jager en sy seun Sallas praat asof uit een mond. Hulle vul mekaar se woorde aan en voltooi mekaar se sinne, al rokend, laggend en geselsend.

Dié pa-en-seun-span was vier jaar gelede net dit: ’n pa en seun wat ’n belangstelling in stories en taal gedeel het, maar gewerk het in ’n wêreld ver verwyder van stories.

Tog is hul vierde film, Stuur Groete aan Mannetjies Roux, pas uitgereik. Sakelui en vennote of bloot pa en seun? “Ons is seker ’n bietjie van albei. Wanneer ons films maak, werk ons as gelykes en wanneer ons saamkuier, is ons pa en seun,” antwoord Sallas.

Hulle gesels rustig in Piet se huis op Bronkhorstspruit, albei met ’n sigaret in een hand, koppie koffie in die ander. Dis juis hier, in hierdie einste sonkamer by Bosbokstraat 6, dat die droom van fliek maak en hul vervaardigingsmaatskappy, Bosbok Ses Films, gebore is.

Hul nuutste fliek draai om ’n dramatiese gebeurtenis wat afspeel die dag waarop die rugbylegende Mannetjies Roux sy legendariese drie gedruk het. Ian Roberts, wat die hoofkarakter, Frans, vertolk, se lewe het daardie dag onomkeerbaar verander, en so sou die mense wat saam met hom op die Karooplaas woon, se lewe ook nooit weer dieselfde wees nie.

Toe Ian se jong niggie Ella (Lizelle de Klerk) jare later kom kuier, word ’n donker familiegeheim uitgelap en eindelik word die raaisel ontrafel wat al saamkom van daardie dag af tydens die druk van Mannetjies Roux se drie.

Die fliek, ook met Anna-Mart van der Merwe, is ’n  drama wat wentel om die sangeres Laurika Rauch se ikoniese liedjie, Stuur Groete aan Mannetjies Roux. Laurika is ook die storieverteller.

Dis nie net die pa-seun-kombinasie wat goed werk nie; hul produksiespanne het ook agting vir hul goeie spanwerk. Niel van Deventer, produksiebestuurder op die stel, sê daar is nie ’n gelyke vir hul werketiek in die bedryf nie.

“Ek het nooit in my lewe gedink om ’n fliek te maak kan so moeiteloos en sonder probleme wees nie. Sallas, Piet en Paul Eilers, die regisseur, laat die skip moeiteloos seil. Om saam met hulle te werk, veral aan Mannetjies Roux, was die beste ervaring van my lewe.”

PIET (60) vee met ’n plathand oor die geelhouttafel voor hom. Ons gesels in die sonkamer waar hul drome gestalte begin kry het. Die mooi woorde van die produksiespan is al erkenning wat hulle nodig het. “Hulle is die mense wat die hardste werk,” vertel Piet.

“Hier,” sê hy en trek aan die sigaret in sy hand, “is Roepman gebore.” Dan is dit Sallas se beurt: “Oor baie nagte en baie whiskeys toe ’n mens eindelik die moed gehad het om dit hardop te sê, het ons besluit om Roepman te maak.”

Sedert die kunsfliek Roepman in 2010 uitgereik is, kyk hulle nie terug nie, maar stel die standaarde. Saam met ou hande soos die veteraan akteur Paul Eilers en die vervaardiger Danie Bester toor hulle met visuele beelde en storielyn. Sallas was die mededraaiboekskrywer van al die films en het met Musiek vir die Agtergrond sy debuut as ’n regisseur gemaak.

Sallas het pas ’n kontrak geteken as regisseur vir twee internasionale films wat binne drie jaar uitgereik word. “Ek is baie opgewonde, maar terselfdertyd baie bang vir die verantwoordelikheid wat saam met dit kom. Dis nie net vir my ’n geleentheid nie, maar ’n droom wat elke filmmaker het. Met ’n bietjie genade van Bo kan ek die deure oopskop vir alle dromers soos ek wat glo dat niks onmoontlik is nie.”

Sallas het nes sy pa en oupa regte studeer. “Ek was ’n regsklerk, maar dit was nie vir my nie. Ons het die musiekgroep Klopjag begin en ek het besluit om ’n musikant te word.”

Piet, die seun van ’n landdros, het in ’n huis grootgeword waar daar gelees is. “Ons het nie geld gehad vir boeke nie, maar elke Woensdagmiddag het ek op my fiets biblioteek toe gery en boeke uitgeneem.”

“So het my kinders ook in ’n huis vol lees grootgeword. Ek was nog altyd mal oor stories. Dit maak nie saak in watter taal dit geskryf word nie, solank dit ’n boodskap het en jou emosioneel raak.”

In 2006 het Sallas die eerste keer ’n draaiboek gesien. “Ek het net daar besluit: As iemand anders dit kan doen, kan ek seker ook.” Sallas, ’n pa van twee dogtertjies, het nie net blindelings ingeduik nie, maar het hom behoorlik as ’n draaiboekskrywer bekwaam.

Hy is gekeur vir die Nasionale Rolprent-en-videostigting se meestersprogram. “Ek het ’n beurs gekry. Ek het ’n draaiboek ingestuur en is gekeur om die meestersprogram te doen.” Die kursus het oor vyf jaar gestrek. Hy het einde verlede jaar sy studie voltooi.

Toe hulle in 2009 besluit om Roepman te verfilm, het hulle flieks begin kyk. “Enigiets wat ons emosioneel geroer het,” vertel Piet.

Hulle het gaan aanklop by Danie, die regisseur en vervaardiger van The Film Factory. “Sy raad was uitstekend,” vertel Piet. “Hy’t gesê jy moet films maak wat oorsee versprei kan word. En in daardie doel het hulle uitstekend geslaag. Roepman is die eerste Suid-Afrikaanse drama wat oorsee gekoop en versprei is.

STUUR Groete aan Mannetjie Roux is ’n ernstiger drama en is gebou om dit wat gebeur wanneer familiegeheime onthul word, vertel Sallas. “Die musiek is deur Christopher Torr, Laurika Rach se man, geskryf,” vertel Sallas.

“Ons was baie bewus daarvan dat die liedjie volksbesit en ’n reuse treffer is. Daarmee saam het verantwoordelik gekom om die film te maak. Ons hoop die film sal ook so volksbesit raak en die toets van die tyd deurstaan.”

Die legende Mannetjies Roux het self ’n draai kom maak op die filmstel op ’n plaas in die omgewing van Schoombee, sowat twee uur van Colesberg af. “Dit was nogal spesiaal,” vertel Niel. “Hy het in ’n stadium gefluister: ‘Ek weet niks van flim maak nie, maar ek sien hier gebeur mooi dinge.’”

Niel vertel die filmspan was ’n eenheid wat baie pret gehad het tussen die werkery en ook deur die boeregemeenskap met ope arms verwelkom is. “Elke naweek kom die boere by die tennisklub saam vir ’n braai. Een aand was Ian op sy stukke. Hy het sy kitaar uit sy Land Rover gaan haal en ure lank ’n akoestiese vertoning van die Radio Kalahari Orkes (waarin hy speel) se musiek gegee. Die mense was gaande daaroor.”

Die grootste uitdaging en moeilikste van elke fliek, vertel Piet, is om ’n storie te vertel wat kykers emosioneel raak. En met hul nuutste fliek hoop hulle hulle slaan die spyker op die kop.

Musiek vir die Agtergrond is ’n film wat meer op die kommersiële mark gerig is met ’n tong-in-die-kies storie oor die musiekbedryf en ’n liefdesverhaal wat draai om ’n opkomende sanger. Terwyl Roepman ’n kunsfliek was, was Verraaiers, wat tydens die Anglo Boereoorlog afspeel, verreweg hul grootste waagstuk, vertel Piet.

“Verraaiers was senutergend. Dit het R7 miljoen gekos om te maak. Die kans om jou gat te sien is groot. So hoekom doen ons dit? Want ons is gek daaroor!”

Sallas dink ’n oomblik. “Iemand het eendag gesê ons kom van nêrens en wil nou flieks maak. Dit is so, ons kom van nêrens, maar ons kom van oral.”

Sallas is steeds betrokke by Klopjag, maar sy groot passie is films. Nes Piet, wat steeds bedags as advokaat praktiseer. Die grootste verskil tussen pa en seun is waarskynlik hul ouderdomsverskil, meen Sallas. “Mense is vir ons albei baie belangrik. Wanneer ons ontspan, kom al die kinders huis toe en ons braai en swem en kuier saam met my ouers.”

Wanneer daar nie ’n lewensles in ’n film is nie, maak hulle nie die fliek nie. “Ons kry baie kritiek, baie!” vertel Piet. Hulle doel is om mooi stories goed te vertel. Mense se stories is universele stories, daarom kan dit enige plek ter wêreld vertel word, meen Sallas.

En as dit van die manne van Bosbok Ses afhang, kom daar nog ’n hele paar stories uit hulle stal.

Deur Danél Blaauw

Foto’s: Rowyn Lombard, verskaf