Die paspoort was so met diere, plante, wolke en ’n gekrabbel versier dat Suid-Koreaanse amptenare nie wou toelaat dat die pa en sy “stoute” seuntjie huis toe keer nie.

Selfs die paspoortfoto het onder die kleinding se kunshand deurgeloop: Die pa se hare is verleng, hy het ’n baard bygekry en sy mond en oë is swart ingekleur.

“Ek voel so hulpeloos!” het die pa in ’n blog op ’n Chinese webtuiste geskryf. “Wat moet ek nou doen? Oplossings? Hulp?”

Dit is nog onbekend wat van die man en sy seuntjie geword het, berig telegraph.co.uk.

Volgens China se amptelike nuusagentskap, Xinhua, is daar ’n belangrike les uit die voorval te leer.

“Jou paspoortfoto is ontsettend belangrik. As enige skade aan die gesiggedeelte van die foto gedoen word, sal jy nie deur ’n doeane toegelaat word nie.”

Daarom vra hulle alle toeriste om hul paspoorte veilig te bewaar – en nie in die hande van kunstige kleingoed te laat nie.

– Christiaan Boonzaier

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.