Die kinders se ma is intussen in hegtenis geneem vir die moorde.

Dit is nog onseker presies wat in die huis in Emory-laan in Loganville sowat 50 km van Atlanta gebeur het. Die moontlikheid bestaan dat die moorde deur die loop van die nag van 5 tot 6 Julie plaasgevind het alhoewel die vrou die polisie se noodnommer eers kort voor vyfuur Donderdagoggend gebel het.


Die vyf slagoffers was vermoedelik almal doodgesteek maar die nadoodse ondersoek moet nog eers afgehandel word voordat dit finaal bevestig kan word.

“Ons weet egter nie wat die rede was hoekom sy hierdie afgryslike misdaad gepleeg het nie,” het kpl. Michele Pihera gesê.

Maar omstreeks vieruur Woensdagmiddag het niemand uitgekom toe daar aan die deur geklop is nie . . .

“Ons mag dalk nooit verstaan wat ’n persoon motiveer om die lewe van sulke onskuldige kinders en haar man te neem nie. Maar dis ’n afgryslike misdaad, nie net vir die slagoffers nie maar ook vir die families, bure en gemeenskap,” het sy gesê.

’n Geskokte Pedro Ramirez (15) sê die kinders het gereeld met hul fietse in die buurt rondgery. Hulle sou altyd uitkom om te speel as een van hul familielede aan die deur geklop het. Maar omstreeks vieruur Woensdagmiddag het niemand uitgekom toe daar aan die deur geklop is nie . . .

Die gesin was nuwe intrekkers in die buurt. Die oudste van hul kinders was volgens een van die bure sewe en die jongste drie jaar oud.

Een van die ander bure het aan die misdaadverslaggewer Liz Artz gesê die vrou was depressief nadat haar pa drie weke gelede gesterf het. 

Jim Hollandsworth sê die personeel by die nasorgskool wat deur die kinders bygewoon is, is verbysterd. “Ons personeel het die kinders goed leer ken. Hulle was oulik, gelukkig en het aan ons programme deelgeneem.”

’n Man wat homself as die oorlede man se broer identifiseer het, sê hy het Woensdag omstreeks 14:30 vir die laaste keer met sy broer gepraat en daar was niks fout sover hy kon agterkom nie.

Bronne: ajc.com, news.monroelocal.org, cnn.com