“Dit is verskriklik wat gebeur het,” vertel een van die bure, Summer Pierce. “Ek het gereeld die babas, ’n seuntjie en ’n dogtertjie, vasgehou en met hulle gespeel. Net die dag tevore het ek ook vir hulle klere gegee.”

Van die bure het aan KX11-nuus gesê hulle het ’n vrou om hulp hoor gil en dat die man ’n mes het. Hy het glo die tweeling se ma, Michelle Forrrells, daarmee gedreig. Maar dis nie al wat Foster gedoen het nie. Hy het tussendeur die ondenkbare probeer doen – om glo die weerlose tweeling in die bad te probeer verdrink.

’n Twaalfjarige meisie wat in dieselfde huis bly, het na die bure gevlug vir hulp. Die polisie is ontbied maar intussen het hulp in die vorm van die buurman, Cash Freeman, opgedaag. Hy het vuurwapen in die hand na die huis gehardloop.

Hy het Foster in die badkamer aangetref waar hy glo besig was om die tweeling te verdrink. Freeman het Foster twee keer in die rug geskiet in ’n poging om die babas se lewens te red.

Nou is daar kommer of Freeman dalk vervolg kan word. Die staatsaanklaer sal weldra besluit of dit geregverdigde mansslag was of nie.

Pierce glo vas Freeman het absoluut die regte ding gedoen. Sy dink die babas sou nie oorleef het as Foster nie geskiet is nie. Sy het aan Fox 6-nuus vertel dat dit nie die tweeling se eerste stryd om oorlewing was nie. Hulle is prematuur gebore. “Ek is net bly hulle sal nie onthou wat vandag gebeur het nie en dat hulle volkome sal herstel,” het sy gesê.

Karis Butler, ook ’n buurvrou, stem saam met Pierce: “Freeman het die regte ding gedoen. Ek sou presies dieselfde gedoen het as ek geweet het wat aangaan.”

Die tweeling is reeds uit die hospitaal ontslaan en doen luidens berigte “baie goed”.

Bronne: fox6now.com, usatoday.com, nbcnews.com, kxii.com