Dit was die dag waarop die 29-jarige Sarah Bertrand aan hul eerste kind die lewe geskenk het, ’n seun met die naam Julian Charles.

Maar net 24 uur nadat sy die lewe geskenk het, is Sarah in haar hospitaalkamer dood terwyl haar verloofde, Jean Luc Montou (24), hul babaseun vasgehou het.

24 uur nadat Sarah Bertrand die lewe geskenk het, is sy in haar hospitaalkamer dood terwyl haar verloofde, Jean Luc Montou (24), hul babaseun vasgehou het. Foto: Facebook


Jean Luc het foto’s op Facebook gedeel – die soort foto’s wat elke ouer het en koester van die kosbare eerste oomblikke van ’n ma wat haar pasgebore kind vashou – met ’n byskrif wat trane in jou oë sal laat opwel. 

“Nie seker of mense wat my blad volg van my situasie bewus is nie,” skryf hy. “My seun, Julian Charles Montou, is op 9 Mei gebore, maar Sarah, sy ma en my verloofde, is net meer as 24 uur later dood.

“Ek sukkel met die rou en treur terwyl ek my babaseun versorg.”

Die foto van Sarah wat hul seun vashou, is die eerste en enigste foto wat hy ooit van hulle saam sal hê.

Die paartjie het gewag om huis toe te gaan om die geboorte aan te kondig, maar pleks daarvan moes Jean Luc toe vir hul geliefdes sê sy is dood. Hy het ’n hartverskeurende plasing gedeel om die nuus bekend te maak.

“(Dit) voel steeds nie werklik nie,” skryf hy.

“Ek het nog nooit sulke brutale, rou pyn ervaar nie. Jy kan ure lank piekfyn wees, nie eens daaroor dink nie, dan tref dit jou soos ’n hamer.”

Volgens Jean Luc, wat ’n dogter, Jane, uit ’n vorige verhouding het, vermoed dokters Sarah is dood weens ’n amniotiese embolisme. 

Dit is ’n uiters seldsame komplikasie van kindergeboorte wat hart-en-longversaking en inwendige bloeding veroorsaak. Hy het aan The Mirror gesê Sarah het van ’n hoofpyn gekla voor sy skielik dood is. 

“Ek onthou ek het gedink dit sou oukei wees, want ons was in ’n hospitaal – en die personeel het so hard probeer om haar te help – maar ek het geweet dit was ernstig tot hulle begin kompressies uitvoer en die defibrillator begin gebruik.”

Die twee het beplan om ná Julian se geboorte te trou. 

Nou is Jean Luc weer ’n enkelouer en bly hy saam met familielede tot hy kan besluit wat om volgende te doen. Hy sê al is dit moeilik, hou sy dogter en seun hom aan die gang.

Jean Luc sê namate Julian groter word, sal hy seker maak hy ken die ma wat hom so innig liefgehad het. 

“Julian was haar doel. Ek sal vir hom sê hy is nie net haar seun nie; hy is haar nalatenskap.”

Hy het ook aan Today gesê sy Facebook-plasing was net veronderstel om aan diegene na aan sy gesin die nuus mee te deel, maar dit verskaf hom vreugde dat mense wêreldwyd nou hul storie gehoor het. 

Bronne: Today, The Mirror, Viral Thread