[caption id="attachment_116771" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die drama het begin toe Scott Walker sy gesin uitneem vir ete en die vyf maande oue Molly meteens “baie ontsteld” raak.

Die pa van twee het aan Buzzfeed News gesê: “Die afgelope paar maande het Molly gesukkel met koliek en refluksprobleme; daarom was dit nie vreemd dat sy onrustig was nie, maar hierdie keer het iets snaaks gevoel.”

Scott se vrou, Jessica, het gedink Molly kry warm en haar sokkies uitgetrek. Dis toe dat hulle iets vreemds aan die kleinding se toon opmerk: ’n Haartjie was so styf om haar toon gedraai, dit het deur haar vel gesny.

Lees ook: VIDEO: Só kalmeer jy dadelik ‘n huilende baba

Dis glo nie ’n ongewone verskynsel nie – dokters noem dit die “toontoerniketsindroom” of ’n “haartoerniket”.

“Dit gebeur wanneer ’n haar naby ’n baba se vinger of toon vashaak, soos in ’n sokkie, en op ’n manier styf daarom draai,” sê dr. Julie Gallombardo, kliniese instrukteur by die departement van pediatrie by die New York-universiteit.

Die toestand kan lei tot infeksies en selfs later ’n operasie vereis. In die ergste gevalle kan dit die verlies van ’n vinger of toon.

“Dis baie seer en moet soos ’n noodgeval hanteer word,” sê Julie.

Jessica, wat volgens Scott “noodgeval-superkragte” het, het die haar vinnig met ’n tangetjie en vergrootglas verwyder. Molly se toon is nou gesond en “dit gaan goed”, sê Scott. “Sy’s nog heeltyd haar normale, gelukkige self.”

Lees ook: Video: Mooi liedjie ontroer baba

Sedert Scott die inligting op Facebook geplaas het, is dit al meer as 21 000 keer gedeel.

“Ek het nooit gedink dit sou so ’n kettingreaksie ontketen nie, maar dis goed om te weet Molly se storie sorg vir bewusmaking onder ouers.”

Julie sê dis belangrik dat ouers leer uit die gesin se storie “omdat dit uit die bloute kan gebeur. Kyk na jou kind se vingers en tone as hulle sonder rede huil.”

Bronne: Facebook, Buzzfeed, Daily Mail