Een van die kinders van die egpaar wat teregstaan op die sogenaamde “huis van gruwels”-hofsaak is glo met boeie tussen twee pilare vasgemaak en met pepersproei gespuit toe hy vra om losgemaak te word.

[caption id="attachment_75679" align="aligncenter" width="600"]Foto: Twitter Foto: Twitter[/caption]

So is daar Woensdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria getuig. Die vrou van die sogenaamde “Springs-monster” het aan die hof gesê die seun is deurnag so aangehou.

Sy en haar man staan tereg op 42 aanklagte, waaronder verkragting, kindermishandeling en seksuele misbruik sowel as dwelmbesit en -handel. Hul name word nie bekendgemaak nie om hul vyf kinders te beskerm. Van dié kinders is minderjarig.

Louiza van der Walt, vir die verdediging, het dit aan die ma gestel die seun beweer sy kop is in ’n emmer vol water gedruk.

“Die seun het weggehardloop en die man (sy pa) het ons aangesê om ’n emmer water te gaan haal en sy kop daarin te druk. Ons het dit gedoen, want ons is bang vir hom," het die vrou getuig.

Hulle het hom glo onderstebo aan sy voete vasgehou en hom kop eerste in die emmer gedruk. Dit is glo net een maal gedoen. Die pa het op die rusbank gesit en toekyk.

“Hy het gesê as ons dit nie doen nie, sal hy ons aanrand.”

“Hy sal die seun eers slaan en dan die seun se een hand met boeie vasmaak en sy ander met ’n stuk tou. Agterna sal hy water oor die seun uitgooi en dan ’n waaier aansit.”

Dit het glo alles snags gebeur.

“Wanneer die seun gesmeek het ‘Maak my los, maak my los,’ is hy met pepersproei gespuit,” het die vrou ook getuig. Sy het gesê die man het soms die hele gesin aan die snoekertafel vasgeboei.

“Hy het ons dan eers losgemaak as hy gevoel het dis nou genoeg. Soms was ons die hele nag so vasgemaak. Ons kon nie eens badkamer toe gaan nie.”

Regter Eben Jordaan het gevra wat hulle moontlik verkeerd kon gedoen het om hierdie soort behandeling te ontvang.

“Edelagbare, ek het myself ook soms afgevra wat ons verkeerd gedoen het,” het die vrou geantwoord.

Die seun is ook in ’n kas gedruk en met ’n blaasvlam gebrand. Van der Walt het gesê die seun vertel dié gebeure het plaasgevind wanneer sy pa kwaad was vir sy ma.

Die man het glo ook ’n jonger kind teen die trappe uitgesleep en haar van die deur af op haar bed gegooi, het die ma gesê. Sy het ook getuig dat die man ’n vuurwapen besit, maar dit later verkoop het.

“Hy het een patroon in die magasyn gesit. Dan het hy die wapen oorgehaal en ’n skoot by my verby afgevuur,” het sy geantwoord nadat sy gevra is of haar man ’n vuurwapen besit en dit ooit gebruik het.

Hy het glo ook ontken dat twee van die kinders syne is en eenkeer die seun in die swembad gegooi sonder om enige poging aan te wend hom van verdrinking te red.

Van der Walt het toe gesê die ma is moeg, waarna die saak tot Donderdag uitgestel is.