Trouens, selfs al is jy bloot iemand wat af en toe êrens vassteek om ’n pragmotor te bewonder of by ’n robot ongemerk na die rykaard langs jou  se wiele probeer loer, kan sulke beeldmateriaal jou stellig diep ontstel.

Die Taipeise polisie het naamlik besluit om ’n lieflike Lamborghini Murcielago van ongeveer R6,7 miljoen in skroot te omskep. Die onskuldige slagoffer het lank in ’n skut gestaan, tot sy eienaar nou ’n hofstryd om sy wiele terug te kry verloor het.

Die eienaar, ene mnr Lin, is by ’n roetine-padblokkade voorgekeer en die polisie het onreëlmagtighede met die vuurwa se registrasie bespeur. Die besonderhede van Lin se sondes is onduidelik, maar alles dui daarop dat hy invoerregulasies probeer omseil het.

Een ding is seker: Die owerhede wou ’n voorbeeld van hom maak en die supermotor moes die prys vir sy baas se beweerde kansvattery betaal.

Dié openbare “teregstelling”, waarheen talle fotograwe en videograwe genooi is, het skokgolwe dwarsoor die motorwêreld gestuur; van Taiwan en Australië tot Nederland, waar dit opskrifte uitgelok het soos Pijnlijk voor petrolheads . . . Lamborghini wordt tot moes vermalen.

Lin het nog as ’n laaste uitweg ’n vriend gestuur om te gaan pleit by die span wat die vonnis sou voltrek, maar vergeefs.

Nadat hulle die stomme Murcielago stuk vir stuk met ’n meganiese staalklou uitmekaargeskeur en fyn gehamer het, is hulle boonop met ’n kruiptrekker ’n paar keer heen en weer oor wat daarvan oorgebly het.

So behoort die superwa eintlik te klink en te lyk!
  Dis nie net Taiwan wat so ver sal gaan om regulasies af te dwing nie. Amerikaanse owerhede het byvoorbeeld ook nie lank gelede nie ’n onwettig ingevoerde R34 Nissan Skyline GT-R in skroot-pannekoek omskep.

Bronne: youtube.com,  autoblog.com, autoevolution.com, 9news.com.au