Amerikaanse owerhede ondersoek die moontlikheid dat ’n 19-jarige student bytende chemikalieë gedrink het kort nadat hy verlede week tydens ’n woedebui ’n paartjie vermoor en die man se gesig probeer eet het.

Austin Harrouff, ’n student aan die Florida-staatsuniversiteit wat tuis was vir die vakansie, het groot opslae gemaak nadat hy John Stevens (59) en Michelle Mishcon (53) op 15 Augustus vermoor het nadat hy saam met sy familie by ’n restaurant gaan eet het.

Hy het ook ’n buurman aangeval wat hulle te hulp gesnel het.

Nou is Austin in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy die bytende chemikalieë gedrink het, vermoedelik in ’n poging om sy eie lewe te neem.

John en Michelle woon sowat 6 km van Austin se pa in Jupiter. Hulle het oudergewoonte rustig in hul motorhuis gesit en televisie kyk toe Austin hulle aanval.

Austin sal op twee moordklagte en ’n klag van poging tot moord aangekla word sodra hy ontslaan word, het William Snyder van die plaaslike polisie gesê.

Die FBI vermoed Austin was onder die invloed van badsout of ’n dwelm genaamd “flakka”, wat tot woede-uitbarstings kan lei. Hulle doen nog toetse om te bepaal of dit wel die geval was.

Hier is ’n paar feite oor "flakka":

William het bevestig geen spoor van tipiese dwelms – soos dagga, kokaïen of metamfetamien – is in Austin se sisteem gevind nie. Sy ouers, Wade en Mina, het verlede week ’n verklaring uitgereik waarin hulle met die Stevens-familie simpatiseer.

Austin se prokureur het ook bevestig dat sy ouers voor die moorde opgelet het hy tree vreemd op, maar hy wou nie verder hieroor uitbrei nie.

BRONNE: Toronto Star, Sun Sentinel, perezhilton.com