Owen Wilson gaan vir die tweede keer pa word.

Owen (44) se maat, Caroline Lindqvist (42), ’n getroude ballerina van Sweedse oorsprong, verwag ’n baba.

Caroline het in Mei ’n egskeiding aangevra van haar man, dr. Ritu Chopra, ’n plastiese chirurg van Beverley Hills. Hulle woon glo al langer as ’n jaar nie meer saam nie.

’n Bron het aan National Enquirer gesê: “Caroline het Owen in Mei vertel hy gaan pa word, kort nadat sy bevestig het hy is die pa. ’n Paar dae later het sy ’n egskeiding aangevra.”

Volgens die tydskrif het Owen en Caroline ontmoet kort nadat hy en die aktrise Kate Hudson geskei is, en hy in 2007 probeer selfmoord pleeg het.

Owen het haar kort na hul ontmoeting gevra om sy persoonlike afrigter te wees. Hulle was goeie vriende voor ’n romanse ontstaan het.

Die nuwe uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Star berig die twee se romanse het eers begin nadat Carline haar man verlaat het. Tog het die nuus van haar swangerskap Ritu geskok.

Owen, die ster van The Internship, het ’n seun, Robert Wilson (2), by sy eks, Jade Duell. Hulle het hul verhouding beëindig net vyf maande ná Robert se geboorte in Januarie 2011.