Caroline Lindqvist het verklap sy en Owen Wilson is net “goeie vriende” wat besluit het om saam ’n kind te kry.

Vroeër vandeesmaand is bekendgemaak die persoonlike afrigter (41) verwag die 44-jarige akteur se kind.

Die Sweedse skoonheid het nou vir die eerste keer gepraat oor haar swangerskap. Sy het vertel sy en Owen het nog nooit ’n ernstige verhouding gehad nie, maar albei wou ’n kind hê. Hulle het toe ooreengekom om saam ’n kind te kry.

Caroline, wat ses maande swanger is, het ’n paar jaar gelede ’n kort rukkie met Owen uitgegaan. Sy het aan die Klick!-bylae van die Sweedse koerant Aftonbladet gesê: “Owen en ek het besluit om ’n kind te hê, hoewel ons nie ’n verhouding het nie. Ons beplan ook nie om met ’n verhouding te begin nie.”

Sy het bygevoeg: “Owen en ek is twee goeie vriende wat besluit het om saam ’n baba te hê. Ons sien regtig uit daarna en kan nie wag om ons kind einde Januarie te verwelkom nie.

Caroline het ontken sy het die ster van The Internship ontmoet toe hy haar as sy persoonlike afrigter in Los Angeles aanstel. Sy sê hy was nog nooit een van haar kliënte nie. Hulle het in 2007 ontmoet, kort nadat hy en die aktrise Kate Hudson (34) uitmekaar is.

Caroline het verder ontken sy en Owen het ’n verhouding gehad voor sy in Mei ’n egskeiding aangevra het van haar eks, dr. Ritu Chopra, ’n plastiese chirurg van Beverly Hills.

Hul baba sal Owen se tweede kind wees. Hy en Jade Duell se seun, Robert Ford Wilson, is in 2011 gebore. Die paartjie het vyf maande later hul verhouding verbreek.