Hy’s g’n dood nie . . . Trouens, hy is nog “springlewendig” en oorgehaal om nog ’n slag of wat af te haak. So het Mohammed Bello Abubakar onlangs aan mediabronne in Niger benadruk ná hardnekkige gerugte dat dié omstrede "superpoligamis" ná ’n kort siekbed heen is.

[caption id="attachment_141516" align="aligncenter" width="600"]Foto: YouTube Foto: YouTube[/caption]

Mohammed (92), van die dorp Bida in Niger, Nigerië se grootste staat, het sowat agt jaar gelede die eerste keer nasionale koerantopskrifte met sy (toe nog) 86 vroue gehaal. Sy vreemde leefstyl het plaaslike godsdiensleiers die harnas in gejaag en mettertyd selfs groot internasionale nuusdienste soos die BBC se aandag getrek.

“Ek is nog pure perd en kerngesond,” het Mohammed nou teenoor Nigerië se Vanguard-koerant gespog. Die jongste storie oor hom is bloot die werk van “teenstanders” wat jaloers is omdat hy so geseën is, het die oudonderwyser en lekeprediker te kenne gegee. Mohammed, wat blykbaar die meerderheid van sy meer as 180 kinders oorleef het, het met altesaam 107 vroue getrou, van wie hy 10 geskei het. In ’n onderhoud met die aanlyn koerant The Nation was hy kwansuis verbaas oor die skerp kritiek teen hom: “My baie vroue? Ek het net 97. En ek gaan weer trou. Ek sal aanhou trou tot ek my laaste asem uitblaas.”'  

Godsdiensleiers in Niger het hom al in 2008 aangesê om tot inkeer te kom en hoogstens vier vroue te kies - of die staat te verlaat. En dan moes hy ook in gelyke mate emosioneel en finansieel na elkeen omsien. Hulle het gereken sy uitgebreide huishouding - sy vroue en kinders woon almal saam met hom in een woonstelblok - grens aan ’n kultus.

Mohammed het egter geweier. Hy glo hy is ’n geroepe man. “Dis ’n opdrag en ek sal enduit daarmee volhou.” Intussen is niemand seker hoe hy vir so ’n reusegesin sorg nie, maar hy is ook blykbaar nog nie oor verwaarlosing verkla nie.

Bronne: independent.co.uk, vanguardngr.com, BBC, YouTube, allafrica.com