Klein Siyao se oupa het haar daar aangebring en aangekondig dat hy ’n lekker warm bad wil hê en daarna ’n ontspannende masseersessie.

Toe dit egter by die betaalslag kom, het hy vertel hy het sy geld vergeet en dat hy dit by die huis sou moes gaan haal.

Mee Wang (40), bestuurder van die badhuis in Kunning in die Yunnan-provinsie in die suidweste van China, het gesê: “Hy het aan die ontvangsklerk gesê hy sal Siyao, sy sesjarige kleindogter, agterlaat as bewys dat hy sal terugkom, en toe is hy daar weg.”

Teen die einde van die dag was hy nog nie terug nie en die jammerhartige personeel moes maar na die meisietjie omsien. Sy bly nou al langer as ’n maand daar.

Sy het goed bevriend geraak met van die personeellede en hulle het seker gemaak dat sy snags,wanneer die sentrum toe is, ’n lekker plek het om te slaap. Hulle het selfs gereël dat daar heelnag ’n televisiestel aangeskakel bly ingeval sy eensaam of bang voel.

Hulle gee haar ook kos, het vir haar skoon klere gebring en sy mag die geriewe van die badhuis gebruik.

Die storie is deur die plaaslike media versprei en die oupa is versoek om na vore te kom. Daarna het verskeie mense die welsynsdienste genader en hulle gevra om in te gryp, maar sy bly steeds by die badhuis.

Bronne: Daily Mail, New York Post