Prins Charles van Brittanje is verheug oor die geboorte van sy eerste kleinkind.

Charles (64) se skoondogter, Catherine, het Maandag die lewe geskenk aan sy seun William se eersteling. Die opgewonde oupa en sy vrou, Camilla (66), is ekstaties oor die nuwe aankomeling in die familie.

Hy het in ’n amptelike verklaring gesê: “Ek en my vrou is albei verheug oor die geboorte van my eerste kleinkind. Dis ’n ongelooflik spesiale oomblik vir William en Catherine. Ons is so bly vir hulle met die geboorte van hul babaseun.

“Om ’n oupa te word is ’n unieke oomblik in enigiemand se lewe, soos soveel mense my die afgelope paar maande vertel het, so ek is verskriklik trots en bly om die eerste keer oupa te word. Ons sien baie uit daarna om die baba te sien.”

Die prinsie, die derde troonopvolger ná sy oupa en pa, is op 22 Julie om 16:24 gebore en het sowat 3,8 kg geweeg, is bekendgemaak.

Dit gaan goed met ma en baba; hulle het die nag in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, deurgebring.

William (31) was aan sy vrou se sy tydens die geboorte en het die blye nuus met sy pa, ouma koningin Elizabeth en broer, prins Harry, gedeel voor dit met ’n amptelike verklaring aan die publiek bekendgemaak is.