Dink net aan al die geskenke wat Marie Frey sal moet koop na dié grootouma se 86ste agterkleinkind net ’n dag voor haar 86ste verjaarsdag gebore is.  

“Ek ken niks anders as familie nie,” het die grootouma aan ’n plaaslike dagblad, The Courier, vertel.

Marie vertel sy het nog altyd geweet sy wil graag ’n groot gesin hê. Maar die vyftien kinders wat sy en haar oorlede man, Gerald, gehad het, het haar stoutste verwagtinge oortref.

Die paartjie is in 1949 getroud. Hulle het tien dogters en vyf seuns gehad. Hul oudste kind is 66. Gerald is in Oktober 2009 oorlede.

Duidelik hou Marie en Gerald se kinders ook van groot gesinne. Marie is die ouma van 68 kleinkinders, insluitend twee stelle tweelinge en ses stief-kleinkinders. Sy is ook die oumagrootjie van 86 biologiese agterkleinkinders en ’n verdere nege aangetroude agterkleinkinders.

Die 86ste toevoeging tot Marie se nimmereindigende lys agterkleinkinders, Blakely Grace Frey, is 23 Junie gebore. Nog agterkleinkinders word in die komende maande verwag wanneer ’n kleindogter en dié se niggie na verwagting geboorte sal skenk.

“Dis wonderlik dat sy haar kom sien,” het een van Marie se kleinseuns Kenny Frey vertel ná Blakely se geboorte. “Familie en geloof is haar twee gunsteling-dinge. Sy is ’n baie sterk vrou.” Marie, wat in Ohio gebore is, woon deesdae in Upper Sandusky.

Haar familie vertel daar was omtrent 250 mense by hulle vorige familiebyeenkoms oor Kersfees.

Maar as jy gedink het by Marie se familiebyeenkomste gaan dit rof, Leo en Ruth Zange van Illinois het dit nog erger: die paartjie het reeds 100 kleinkinders en heelwat meer agterkleinkinders.

Ons wonder hoe dit onder dié familie se kersboom gaan lyk?

Bronne: huffingtonpost.com, abcnews.go.com, people.com, insideedition.com.