Haar kleinseun, die 20-jarige danser Luis Omar Ocasio-Capo, was een van die jongste mense wat gesterf het tydens ’n skietery in ’n gay nagklub in Orlando, Florida.

Die personeel van die lugredery JetBlue het geweet die ouma vlieg Dinsdag op haar eie na die begrafnis toe en het elke myl van die vlug vir haar so gemaklik moontlik gemaak. Die vlugkelnerin Kelly Davis Karas het dit op haar Facebook-blad gedeel.

Hulle het gesorg sy kry ’n gemaklike sitplek in die vliegtuig, ’n kombers, kussing en “ ’n boks snesies vir haar trane”.

Toe Kelly bestellings vir drankies neem, het sy stukkies papier uitgedeel vir passasiers waarop hulle hul steun kon toon deur hul name daarop te skryf.

“Dis toe dat die een uur lange vlug werklik inspirerend geword het,” skryf Kelly. Die passasiers het die papiertjies vol geskryf met liefde en meegevoel vir Luis se ouma. Sommige het selfs geld as donasies daarin toegevou voor Kelly dit vir haar gevat het. “Daar was baie betraande oë,” onthou Kelly.

Toe die vliegtuig land, het sy die gewone aankondiging afgesluit met: “Ons staan saam met Orlando.” Met die ouma se toestemming het die hele vliegtuig ’n oomblik van stilte gehou. En terwyl die passasiers die vliegtuig verlaat, het hulle haar “nog ’n daad van liefde betoon”.

“Elke liewe passasier het by haar gaan stilstaan en hul medelye uitgespreek,” skryf Kelly. “Nie een enkele een was ongeduldig nie. Van hulle het haar drukkies gegee; ander het saam met haar gehuil,” voeg sy by.

En sy is ook trots om te sê haar lugredery bied gratis vlugte aan vir die slagoffers se families en lewensmaats om begrafnisse te kan bywoon.

”Ten spyte van ’n handjie vol haatdraende, gebroke mense in die wêreld . . . is daar nog mense wat omgee,” het sy haar inskrywing op Facebook afgesluit.