Ouers en grootouers se benadering tot ouerskap verskil dikwels van mekaar. As kind het jy pak gekry wanneer jy stout was, maar wanneer jou kind hom wangedra, neem jy sy slimfoon of videospeletjies weg en stuur hom kamer toe.

Verskille in ouerskapstyle kan groot rusies tussen ouers en grootouers ontketen, veral as ouma en oupa te veel inmeng, sê Anne Cawood, ’n maatskaplike werker van Kaapstad.

“Baie ouers sê vir my hulle het taamlike vertroue in hul ouerskapsvaardighede – tot hul ouers of skoonouers kom kuier. Hulle voel daar word druk op hulle uitgeoefen om hul kinders groot te maak volgens die ouer generasie se verwagtings.”

Ouers en grootouers haak veral vas oor kwessies rondom dissipline en tegnologiegebruik, sê Lomé Koekemoer, ’n sielkundige en ouerskapsleidingspesialis van Randburg.

“As die ouers se reëls nie by ouma se huis toegepas word nie, is dit vir die kind baie verwarrend en dit kan tot konflik tussen die ouers en grootouers lei.” Ongelukkig ly kleinkinders die meeste onder die onmin in die familie, voeg sy by.

“Soms voel kinders hulle moet tussen hul ouers en grootouers kies.” Hier is wenke oor hoe om vrede in die feestyd te bewaar as ouma en oupa dalk kom kuier.

Raad aan ouers:  

-        Praat met jou ma en pa oor jou ouerskapstyl, sê Thembelihle Dube, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad. “Dit kan vir ouers nuttig wees om hul ouerskapstyl in hooftrekke vir die grootouers te beskryf. Vra hulle moet die redes verstaan waarom julle verkies om dinge op hierdie manier te doen.” Maar moenie in jul kinders se teenwoordigheid met hulle hieroor praat nie, maan Lomé.

-        Jy moet vertroue hê in jou ouerskapstyl, is Lomé se raad. Besluit saam met jou maat watter aspekte van ouerskap nie vir julle onderhandelbaar is nie, soos dat jul 10-jarige seun nie na gewelddadige TV-programme of flieks met ouderdomsperke mag kyk nie. Ouma en oupa behoort hierdie reël te respekteer en toe te pas.

-        Moenie onredelik wees nie. Jy kan op sekere gebiede die reëls ’n bietjie buig. Grootouers moet toegelaat word om hul kleinkinders af en toe te bederf, sê Anne. Jy is byvoorbeeld baie streng oor wat jou kinders mag eet, maar wanneer jou ma kom kuier, bring sy tuisgebakte kolwyntjies. “’n Redelike ouer sal dit toelaat as ’n ‘ouma-bederfie’,” sê Anne. Dit beteken nie grootouers moet oorboord gaan en hul kleinkinders vet voer met ongesonde lekkernye nie.

-        “Vra jou ouers vir hul wysheid,” sê Lomé. “Dit gee hulle die geleentheid om hul ondervinding met jou te deel.”

-        Moet ouma of oupa nie voor jou kinders aanspreek as hulle probeer inmeng of jou reëls of ouerskapstyl ondermyn nie, beklemtoon Lomé. Dit kan jou kinders verwar of angstig maak. “Neem jou ma of pa eerder eenkant toe nadat die situasie afgekoel het. Verduidelik aan hom of haar hoe jy voel en hoe jy graag wil hê hulle moet optree.” Anne stem saam. “Bly kalm, al is dit moeilik. Sodra julle ’n privaat oomblik het, maak dit baie duidelik dat hul optrede onaanvaarbaar is.” Wanneer jy jou ouers aanspreek oor hul inmengery, doen dit met respek en sonder om hulle te konfronteer, voeg sy by. “Begin met iets positiefs soos: ‘Ek weet jy probeer net help en het my kinders se beste belange op die hart.’ Maar dan moet jy selfgeldender wees en sê: ‘Maar ek voel dit ondermyn my as ek ’n reël toepas en dit lyk of jy my gesag ondermyn.’”

Raad aan grootouers:

- Moenie te vinnig kritiek lewer nie. “Dink terug aan al die foute wat jy as jong ouer gemaak het,” sê Lomé.

- As jy bekommerd is oor jou kleinkinders omdat hulle byvoorbeeld oorgewig is en te veel gemorskos eet, kan jy jou kommer met jou kinders deel, maar moenie vinger wys of veroordeel nie, sê Anne. Kies die regte oomblik wanneer julle alleen daaroor kan praat. Pleks daarvan om reguit te vra hoekom jou kleinkinders soveel gemorskos eet, sê eerder jy is bekommerd en vra of jou dogter of seun ook so voel.

- As jy ernstige kommer oor jou kleinkind se welsyn het, sal jy dalk by ’n professionele mens om hulp moet aanklop, sê Anne. “Grootouers het ’n uitdagende rol. Hulle het geen wetlike regte op hul kleinkinders nie, maar hulle het wel ’n verantwoordelikheid om die aandag op gevalle van verwaarlosing of mishandeling te vestig.”

- Petro-Anne Vlok