[caption id="attachment_167640" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels. Foto ter illustrasie. Foto: Pexels. Foto ter illustrasie.[/caption]

Eindelik het die pensioentrekker haar natgemaak. Sy moes toe met nat klere sit op die 13 uur lange vlug tussen Los Angeles en Londen.

Nadat die 87-jarige Kocharik Tsamouzian aan boord gegaan het, het sy besef sy moet die badkamer gebruik, maar ’n vlugkelnerin het volgens Daily Mail die pad versper sodat sy nie kon verbykom nie.

Volgens die reëls van die Burgerlike Lugvaartowerheid moet almal vasgegespe bly sit terwyl die vliegtuig stilgestaan het nadat dit op die aanloopbaan vertraag is.

Die arme Kocharik kon dit 90 minute later nie meer uithou nie. Om sake te vererger, het sy nie droë klere in haar kajuitbagasie gehad nie.

Die voorval het reeds op 22 Desember plaasgevind, maar die storie het eers uitgekom nadat haar dogter, Aida Behroozi, by Daily Mail gekla het oor die gebeure en hulle die verhaal verlede Maandag gepubliseer het.

“Ek het my ma by die Heathrow-lughawe gaan oplaai. Sy was in trane,” het Aida aan die nuusblad gesê.

“Ek het gebewe van woede. Sy het die lugwaardin herhaaldelik gevra of sy toilet toe kan gaan, maar dié het om gesondheids- en veiligheidsredes aanhoudend nee gesê.

“My ma het verduidelik hulle moet haar toelaat omdat sy bejaard is, maar die lugwaardin het voor haar sitplek gaan staan sodat sy nie kon opstaan nie.”

Die geskokte Kocharik het aan The Telegraph gesê sy sal nooit weer van British Airways gebruik maak nie. “Hulle word beskou as die beste voorbeeld van goeie diens, maar hier is die teendeel bewys.”

Die redery het Kocharik intussen R680 aangebied as skadevergoeding.

Toe The Telegraph British Airways om kommentaar nader, het ’n woordvoerder verduidelik hulle het bloot die lugvaartowerheid se bepalings nagekom. “Ons begryp dit moes ’n uiters ontstellende ervaring gewees het en het met ons kliënt in verbinding getree.

“Ons goed opgeleide kajuitpersoneel probeer passasiers altyd so gemaklik moontlik maak, maar die veiligheidsreëls vir burgerlike lugvaart bepaal almal moet sit en vasgegespe wees wanneer die vliegtuig begin beweeg. Die veiligheid en beveiliging van ons kliënte is altyd ons hoofprioriteit.”

Bronne: Indianexpress.com, The Telegraph, Daily Mail