Die voorval het Saterdagmiddag omstreeks 15:45 by die Kariebahof-woonstelblok in Hanover Park plaasgevind.

Vier ander mense is vir brandwonde en rookinaseming behandel.

Daar heers nog onsekerheid oor wat die oorsaak van die brand was maar die trio was glo vasgevang in hul huis en gyselaar gehou deur lekkende vlamme.

Yvonne Briqwa (57) en haar twee kleinseuns, Jordan (3) en Jaden (1) was vasgekeer in die tweede verdieping van hul woonstel.

Inwoners het die ouma en haar kroos probeer help maar by die tyd toe hulle die brandende wrak binnegaan het Yvonne en Jaden klaar aan hul wonde beswyk. Jordan het op pad hospitaal toe aan sy wonde en rookinaseming gesterf.

’n Inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê die gemeenskap is diep geruk oor die tragedie.

“Om mense se hulpkrete te hoor en nie in staat te wees om hulle te help nie is iets wat ’n mens se hart breek,” vertel sy.

Luidens berigte was die kinders se ma nie ten tyde van die voorval by die huis nie. Hul 15-jarige sussie was gelukkig nie binne die huis nie en is ongedeerd.

Yvonne Briqwa(57) en haar twee kleinseuns, Jordan (3) en Jaden (1) het Saterdag omgekom. Foto: Verskaf

Theo Layne, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand en reddingsdienste, sê die oorsaak van die brand is onbekend.

Kapt FC Van Wyk, ’n polisiewoordvoerder het die voorval bevestig.

“Die omstandighede rondom die dood van ’n vrou in haar vyftigs en twee minderjariges word ondersoek. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.”