Die vrou wat by haar niksvermoedende klante se huis opgedaag het om hul honde te bad en dan met hul kosbare juweliersware verdwyn het, is op Donderdag 17 November in die streekhof in Virginia aan diefstal skuldig bevind.

Angelique Prinsloo is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is.

Die polisie het aanvanklik vyf sake van diefstal teen die 28-jarige enkelma ondersoek, vier in Virginia en een in Welkom in die Vrystaat. Die saak in Welkom is later weens ’n gebrek aan bewyse teruggetrek.

Angelique, ’n 28-jarige enkelma, het skuld aan ál vier klagte erken.

Huisgenoot het onlangs vertel van die vriendelike rondreisende hondeversorger wat dikwels die badkamer besoek en haar maklik in haar klante se huise tuisgemaak het (Weg, ons ringe ná hondewas, 6 Oktober). Vir haar klante het sy na “’n oulike, jong sakevrou” gelyk.

Marie Duvenhage (71), een van haar slagoffers, het eerste ’n klag by die polisie aanhangig gemaak nadat drie goue ringe met diamante, smaragde en robyne ter waarde van R100 000 ná Angelique se besoek verdwyn het.

Sy het Marie, ’n kankerlyer, gekomplimenteer oor haar mooi ringe. Angelique, die ma van ’n 11 maande oue baba, het vertel haar kind moet ’n skoolprojek oor diamante doen en gevra of sy die ringe kan afneem. Marie het die ringe toe op haar spieëltafel gelos, maar ná Angelique se vertrek was hulle skoonveld.

Nog ’n slagoffer, Alet Oosthuizen, het vertel dat Angelique gereeld badkamer toe gegaan het toe sy haar twee honde kom bad het. “Maar ek het geen onraad vermoed nie.” ’n Paar dae later het sy ontdek ses goue ringe en twee silwerhangertjies van altesaam R97 000 het uit haar juweelkissie verdwyn.

Ook in die ander twee gevalle het Angelique dié werkswyse gevolg. Sy het haar klante se vertroue gewen en dikwels die badkamer besoek. Dan het sy vermoedelik haar kans waargeneem om in kaste en laaie na juweliersware te soek. Een van haar slagoffers se huishulp het Angelique op heterdaad betrap en haar werkgewer ingelig.

Angelique is op 29 Augustus in hegtenis geneem. Sy het nie borgtog gekry nie, omdat sy geen vaste woonadres gehad het nie.

Ao. Johan de Lange van die speurtak in Virginia het aan Huisgenoot gesê hy is tevrede met die uitslag in die saak. “Ons is dankbaar dat die reg geseëvier het.”