“Van een minuut tot die volgende verander jou wêreld en niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Mense verwag jy sal ná ’n sekere tyd weer jou ou self wees, maar daardie vorige lewe is vir altyd verby,” sê Debbie James, leier van die Johannesburgse tak van The Compassionate Friends (TCF).

Dié organisasie steun mense wat iemand aan die dood afgestaan het.

"Maar jy kan nie. Jy sien nie die wêreld of jouself meer op dieselfde manier nie," sê Debbie. 'n Paar ouers wat hul kinders aan die dood afgestaan het, deel hul verhale met Huisgenoot.

JAMES

“My pragtige seun James is met Down-sindroom gebore,” vertel Debbie.

[caption id="attachment_142157" align="alignnone" width="600"]James Haybittel en Debbie Haybittel James. Foto: Verskaf James Haybittel en Debbie Haybittel James. Foto: Verskaf[/caption]

Vir haar was hy perfek, ’n spesiale geskenk. Maar hy het skielik baie siek geword en moes op vyf maande ’n noodoperasie aan sy hart ondergaan. Sy lyfie was te swak en hy is op die operasietafel dood. “Ek was ’n enkelouer met ’n beperkte ondersteuningsnetwerk,” onthou Debbie.

’n Ander ma wie se kind op dieselfde dag en in dieselfde hospitaal as James oorlede is, het haar van TCF vertel. “Dit is wat TCF is: ’n organisasie wat ouers deur die moeilikste tyd van hul lewe dra.

Hierdie steungroep help jou om weer aan te pas in die wêreld, want jy voel jy hoort nie meer daar nie. Hulle het my gehelp om ’n veilige plek te vind saam met mense wat verstaan wanneer ek in duie stort, terwyl ander verwag ek moet net daaroor kom. Jy kom nie oor rou nie; jy leer dit deel maak van jou lewe en ’n nuwe soort ‘normaal’ skep.

“TCF het my gehelp om dit reg te kry,” vertel sy. “Toe my baba  in 1993 dood is, was TCF ’n bekende bron van ondersteuning. Ek wil graag hê dit moet weer so wees.”

TCF bied al amper ’n halfeeu lank steun, veral aan ouers wat ’n kind verloor het. Die internasionale voorsitter van die steungrope, Myrtle Fleming van Oos-Londen sê: “Jy kom nie oor die dood van ’n kind nie; jy kom daardeur. Al is jou kind al jare lank dood, hy of sy bly jou kind.”

Ter viering van hul 47ste bestaansjaar word daar op 22 Oktober (eerskomende Saterdag) ’n staptog beplan by die Rietvlei Lifestyle Centre, suid van Johannesburg. Met elke tree sal hulde gebring word aan ’n geliefde wat nie meer hier is nie.

BOY

Kate Shand het ’n boek geskryf oor haar seun wat in 2011 oorlede is. Boy het in 2013 verskyn.

[caption id="attachment_142168" align="alignnone" width="600"]Boy en sy jongste sussie. Foto: Verskaf Boy en sy jongste sussie. Foto: Verskaf[/caption]

“My seun se volle name is John Peter Shand Butler, maar hy was ook bekend as Boy of JP. Ek verwys na hom as JP omdat hy dié naam verkies het toe hy ouer word. Hy is op 19 Junie 1996 gebore en het gekies om sy lewe op 31 Maart 2011 op die ouderdom van 14 te beëindig,” vertel Kate.

“JP is by die huis en sonder enige pyn gebore en het sonder ’n bohaai die wêreld binnegekom. As ’n baba en peuter was hy so ’n maklike kind. Hy het net ingepas en meegedoen aan wat op die oomblik aan die gebeur was . . . Net wanneer hy regtig moes, het hy gepraat.

“Dwarsdeur JP se kort lewe was dit so. Hy was altyd so effe anders, maar dit was niks waarop ek my vinger kon lê nie; net ’n bietjie vreemd met die wêreld.

“Dit het gelyk of hy sy eie geselskap die meeste geniet. Hy was glad nie slu nie en is gewoonlik uitgevang wanneer hy stout was. Hy was glad nie veeleisend nie; hy was skaam en teruggetroke en dit het pynlik na vore getree in sy selfbewuste verhouding met die wêreld. Hy wou ongesiens lewe.”

Op die dag van JP se dood kon Kate skaars haar man se stem oor die foon herken: “Kom huis toe. Hy het homself doodgemaak.” Sy kom, het sy geantwoord, terwyl dit in haar kop weerklink het: “Nee-nee-nee-nee-nee . . .” Hy kon tog nie dood wees nie, maar toe sy die mense voor haar huis sien, het sy geweet: Boy is dood.

Daardie middag, byna vyf jaar gelede, het haar seun hom met ’n platriem agter hul huis in Johannesburg opgehang. “My seun het nie uitgeroep om gehoor te word nie; sy noodroep was so sag, ek kon dit nie hoor nie.”

Ses weke ná JP se dood het Kate na TCF begin gaan.

“In daardie vroeë dae, toe ek skaars kon begryp wat aan die gebeur was, het dit gehelp om TCF se maandelikse selfdoodbyeenkoms by te woon. Ek was nie alleen nie. Dit het ook met ander mense gebeur . . . Dit sou nooit dieselfde wees nie, maar ek leef nog. TCF het en bied steeds ’n ruimte waar ek my seun kan onthou en waar mense rondom my nie terugdeins wanneer ek sy naam noem nie,” vertel Kate.

SERGIO

Op sy 21ste verjaardagpartytjie is haar seun deur ’n kleinneef aan sy pa se kant doodgeskiet. “Dit was so onverwags. Ons was oorweldig, ons kon baie lank nie daaroor praat nie,” vertel Isabel Ferreira (61), ’n berader van Johanesburg.

Haar seun Sergio is op die oggend van 4 September 2005 vermoor.

[caption id="attachment_142163" align="alignnone" width="600"]Sergio met sy ouers, Isabel en King Ferreira. Sergio met sy ouers, Isabel en King Ferreira.[/caption]

Gelukkig het Isabel vier weke ná die skietery op ’n vriendin se aandrang by TCF beland. “Hulle het my ’n veilige ruimte gegee om my uit te woed. My kind was dood en ek was besig om mal te raak.”

Sy het so gefokus op hoe haar man, King Ferreira (65), en hul oorlewende seun, Nuno (37), alles verwerk dat sy nie aan haar eie rou aandag gegee het nie. Vir King was dit baie moeilik dat sy bloedfamilie verantwoordelik was vir sy seun se dood.

“Die gevolge daarvan kring steeds uit,” sê Isabel. Hy het nog nie professionele hulp gekry nie, al het die regter dit in sy uitspraak aanbeveel.

Nuno was 26 jaar oud toe sy broer doodgeskiet is. “Hy was die ouboet, maar kon nie Sergio daardie oggend beskerm nie. Hy het die skietery gesien. Dit beïnvloed nou nog sy verhoudings. Hy is doodbang om weer iemand naby aan hom te verloor,’’ vertel Isabel.

“Ek self het gedink ek sou nooit weer in staat wees om te lag nie,” voeg sy by. Die ander lede van TCF het haar met hul stories begeester. Sy het deur Unisa gevorderde berading studeer en werk nou saam met die Sandton-polisie aan ’n slagofferbemagtigingsprogram.

“Dit was alles deel van my helingsproses. Dit help om uit te reik na ander,” meen Isabel.

Sy werk baie met kinders en raai ouers aan om met hulle te praat oor die dood van ’n geliefde. “’n Twaalfjarige seun het my nou die dag vertel hoe kwaad hy is omdat hy nie by die rouproses betrek is nie.”

NANAYAA

Hul 33-jarige dogter, Nanayaa Angela Osei-Tutu, was in April 2012 by die AfricaBurn-fees in die Tankwa-Karoo. Hulle was op pad om deur Kaapstad terug te ry na Johannesburg toe sy aan ’n pulmonale embolisme (bloedklont deur die longe) dood is.

“Nanayaa is my enigste dogter. Ek het ’n 31-jarige seun, wat ook getraumatiseer is deur haar dood. Sy het die fees so geniet. Sy sou terugkom, haar honneursgraad in ekonomiese weteskappe voltooi en haar meesters hier of oorsee gaan doen. Daar was soveel drome,” vertel Anthony Osei-Tutu (62).

[caption id="attachment_142151" align="alignnone" width="600"]Nanayaa Angela Osei-Tutu. Foto: Verskaf Nanayaa Angela Osei-Tutu. Foto: Verskaf[/caption]

“Ons almal verwerk nog haar dood. Veral ouers is nie voorbereid op die dood van ’n kind nie. TCF gee ons die ruimte om met ander ouers en families te praat, mense wat verstaan. Dit is ’n plek om te begin gesond word. My vrou aanvaar dit baie moeiliker as ek. Ons kan nie ophou dink waar sy sou wees as sy nog geleef het nie.” Sy vrou, Mahlape (62), is ’n opleier by maatskappye en sy seun, Mpho, is ’n akteur.

“Weens die opvatting dat jy geen swakheid mag wys nie, sukkel mans soms om deur rou te werk; eintlik is dit ’n teken van volwassenheid en krag as jy jou hart kan oopmaak. Die enigste manier om gesond te word is om jou emosies te deel. Sy is steeds saam met ons en ons is baie bewus daarvan.

“TCF jaag jou nie aan met die rou-proses nie. Jy word tyd gegun om deur alle die stadiums te gaan. Ek moedig almal wat ’n geliefde verloor het aan om by ’n steungroep aan te sluit.”

TCF is ’n wêreldwye familie van bedroefde ouers en gesinne wat mekaar ondersteun, ongeag ouderdom, ras, kultuur of godsdiens. Dis in 1969 in Engeland gestig en daar is 3 000 takke in 30 lande, ook in Suid-Afrika. Myrtle, internasionale voorsitter van die steungroep, het 24 jaar gelede by dié organisasie betrokke geraak. Dit was ná haar seun Andrew se dood.

“Die broosheid van die lewe is ’n hartverskeurende werklikheid vir ’n ouer wat ’n kind moet begrawe, of jou kind 60 jaar oud of ’n baba is. Vir die ouers bly dit ’n traumatiese verlies.

Niemand wil praat oor ’n kind se dood nie.” Gesprekvoering is juis wat hulle by hul groepe landwyd wil aanmoedig. As jy weet jy is nie alleen nie, maak dit die gesondwordproses ’n bietjie makliker.

  • Op 22 Oktober word ’n  staptog by die Rietvlei Lifestyle Centre gehou. Die toegangsgeld beloop R35, waarvan TCF R25 sal kry. Deelnemers moet registreer en kry ’n armbandjie. Mense kan piekniekmandjies en draagbare braais bring en saam met ander kuier wat ook geliefdes aan die dood afgestaan het.