Vir Gavin en Kimberley Fradel van Wake Forest, Noord-Carolina, was daar net een oplossing nadat hul drieling op 8 Mei hul opwagting gemaak het: gekleurde toonnaels. Die kleingoed is so identies, dit verwar hul ouers. Nou is Emma se toonnaels groen geverf, Grace s’n geel en Stella s’n pers.

Al is drielinge nie ’n ongewone verskynsel nie, is identiese drielinge ’n rariteit – die kans dat dit gebeur, is een uit ’n miljoen. In Amerika is verlede jaar net vier identiese drielinge gebore. Die Fradel-drieling het dus die wêreld aan’t gons: Nie net omdat is hulle oulik nie; hulle is boonop identiese patroontjies. Het die Fradels geweet wat op hulle wag? Allermins.

Toe Kimberley haar man in November ná ’n doktersondersoek bel, was daar glo net trane. “Sy het begin huil en gesê: ‘Weet jy hoeveel kinders gaan ons hê?’” Gavin het gedink dit sal seker maar ’n tweeling wees. .

Hy vertel dit was asof ’n wolk oor sy gesig trek toe die snikkende Kimberley eindelik die woord “drieling” kon uitkry. Boonop het die drietal sonder enige vrugbaarheidsbehandeling opgedaag.

Hul boetie, Gavin jr. (2), wou aanvanklik nie veel weet van die nuwelinge nie, en tydens ’n besoek aan die hospitaal het hy selfs gevra sy pa moet hulle teruggee.

Deesdae is hy egter die eerste een wat soentjies en drukkies uitdeel. “Dis baie werk, maar ek is lief vir hulle,” het die trotse pa gesê. “Hulle is almal genetiese wonderwerke – al vier van hulle.”

Bronne: gma.yahoo.com, wikipedia.org, abc7chicago.com