“Ons weet nie vir seker nie. Ons moet net wag en sien,” het haar somber stiefpa, Mervin Jacobs, gesê.

’n Slegte reuk het die polisie begroet toe hulle Dinsdagoggend na ’n huis in St. Agatha-straat, Lavender Hill, ontbied is.

FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die reuk het uit ’n hut agter die huis gekom.

“Toe polisielede die hut oopmaak, het hulle die gedeeltelik ontbinde lyk van ’n onbekende vrou gekry wat met ’n mat bedek was,” sê hy.

Haar hande en voete was vasgebind en sy was halfnaak.

’n Moordsaak is geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. FC sê die ouderdom van die oorledene is in hierdie stadium onbekend.

“ ’n Geregtelike doodsondersoek sal uitgevoer word om haar identiteit en die oorsaak van haar dood vas te stel,” sê hy.

Mense wat Rene ken, beskryf haar as ’n stil en gehoorsame kind. Sy is kort voor twee op 10 Maart die laaste keer gesien. Sy het haar ma droë wasgoed van die lyn help afhaal toe sy vra of sy kan winkel toe gaan om skyfies te koop. Sy het die winkel nooit gehaal nie, al is dit net ’n paar huise van haar huis af.

Mervin het volgehou Rene sou nooit van die huis af wegloop nie. Hy meen sy is teen haar wil gevat.

Inwoners het deurgaans na haar gesoek, maar Mervin het Woensdag gesê al die leidrade wat hulle ontvang het, het doodgeloop.

Die beloning vir enigiemand met inligting wat daartoe lei dat Rene opgespoor en veilig by die huis besorg word, is tot R20 000 verdubbel.

Bron: News24