Helen en Arun Kumar, ouers van die tweejarige Elsie, het ’n desperate soektog vir ’n bloedskenker aan die gang gesit sodat hul dogter kan bly leef. Elsie se ouers het twee jaar lank behandeling vir onvrugbaarheid ondergaan om haar te kry en hulle was platgeslaan toe sy verlede jaar miëloïed-leukemie kry.

Dinge het ’n rukkie lank rooskleurig gelyk vir Elsie, wat Downsindroom het, toe die kanker later verlede jaar in remissie gaan. Maar die dogtertjie het sedertdien ’n terugslag gekry en is sedert verlede maand ’n binnepasiënt by die Great Ormond Street-hospitaal in Londen.

Helen en Arun wou in September getrou het, maar uit vrees dat hul kleinding dit nie sal maak nie, het hulle hul planne gekanselleer en in die hospitaal getrou sodat sy ook kon by wees. “Ons het reeds die plek bespreek gehad, aan die kos geproe en Helen het selfs ’n rok gekoop,“ het Arun verduidelik. “Toe die dokters bevestig dat sy ’n terugslag gehad het, het ons besluit om die troue te vervroeg. Ons wou graag hê sy moet dit bywoon.”

Gelukkig het die impromptu troudag volmaak afgeloop vir die Kumars. “Dit was ’n fantastiese dag. Al ons vriende en familie was daar, en Elsie was die blommemeisie. Sy het op haar driewiel agter Helen in die paadjie afgery,” het Arun vertel. “Sy was in ’n goeie toestand ten spyte van vyf dae van sterk chemoterapie kort tevore. Sy het die kalklig gesteel.”

Elsie is een van die een uit 10 kinders met Downsindroom wat ook oorganklike abnormale miëlopoïese het, ’n leukemieagtige toestand wat kan oorgaan in miëloïed-leukemie. Dit het in Elsie se geval gelei tot volslae leukemie. Dit is net ná haar tweede verjaardag by haar gediagnoseer. ’n Bloedstamsel-oorplanting is haar beste kans om die dodelike siekte die hoof te bied. Die feit dat sy geen sibbe het nie, asook haar gemengde etnisiteit, verskraal egter haar kanse drasties om ’n geskikte skenker te vind.

Helen Kumar sê: “Omdat Elsie van ’n gemengde ras is, is die kanse een in ’n miljoen of meer.” Maar die pasgetroude paartjie hou aan hoop en maak die tydjie wat miskien Elsie se laaste dae by hulle kan wees, so aangenaam moontlik. “Sy wil nie siek wees nie; sy wil net graag speel en ’n normale kleuter wees,” verduidelik Arun. “Ons neem haar elke oggend uit sodat sy vir ’n halfuur of so op die swaaie kan speel, en neem haar dan terug hospitaal toe.

BRONNE: dailymail.co.uk, standard.co.uk