Maar ouers kan nie net aan hulself dink op dié spesiale dag nie, en die werklikheid is dat baie nooit kans kry om die dag te vier nie – bloot omdat dit te veel moeite is en meeste van die liefdesgeskenkies wat winkels verkoop, nie kinders in gedagte hou nie.

Maar moenie moed verloor nie – by Superma glo ons jy kan romanties wees én die kleingoed (tot ’n mate) by jou planne insluit. Hier is ’n paar idees wat die kinders sal betrek en hul gelukkig en besig sal hou, en vir jou maat sal wys jy dink aan hulle. Vir meer oor elkeen van die onderste idees, besoek ons Pinterest-blad hier.

1. Valentynsdag-ontbyt: Daar is soveel idees op Pinterest dat ons nie weet waar om te begin nie: Hartvormige eiers. Hartvormige aarbei-pannekoeke. Hartvormige spek. Maak sommer alles – en laat die kleingoed jou help. Ontbyt in die bed (met kos in hartjievorms) beteken julle almal kan vir so ’n uur of wat lekker eet, gesels en lag in die bed, en in vandag se besige tye is so ’n uur ’n kosbare geskenk.

2. ’n Valentynskaart wat die kinders gemaak het. Weereens is daar miljoene idees. Jy kan onder meer hul hande of voete in verf doop en ’n boodskappie daarby voeg of kryt in die oond smelt om veelkleurige harte te maak. Daar is talle prettige boodskappies wat jy kan gebruik wat die kinders ook sal geniet, soos om ’n prentjie van ’n dier met groot oë te teken en daarby te skryf: “Ek het net oë vir jou” of om ’n foto van ’n piesang te teken met die woorde: “I’m bananas about you”. Moenie jou bekommer dat dit te sentimenteel is nie – dis immers Valentynsdag (wanneer gaan jy weer iets so lekker laf kan doen?).

3. Geskenkidees. Laat die kinders jou help om ’n hart op manlief se gunsteling-hemp se elmboog vas te werk (maar kies ’n neutrale kleur sodat dit nie slordig lyk nie). As jy bekommerd is dat hy dalk nie daarvan gaan hou nie, doen dit op ’n sakdoek of iets wat nie te sigbaar is nie, soos die onderpunt van ’n das of ’n onderhemp. Jy kan ook die kinders vra om jou die beste liefdesliedjies te help kies en ’n moderne weergawe van die mixtape maak – sit die musiek op ’n geheuestokkie of sy iPod en laat hy op pad werk toe daarna luister. Jy kan selfs ’n opname byvoeg wat jy op jou foon gemaak het – ’n spesiale boodskap van jou en/of die kinders. Of wat van ’n fotoraam met ’n mooi foto van julle twee wat die kinders kan versier en hy op sy lessenaar by die werk kan sit?

4. Soetgoed vir jou soetlief. Wat sou Valentynsdag sonder soetgoed wees? En die kinders kan dit ook geniet, want jy kan wat jy ook al maak vir die kinders ook maak. Flessies gevul met rooi en pienk jelliebone, rooifluweel-kolwyntjies, ’n pakkie grondboontjies met die woorde “I’m nuts about you” of net ’n rooi stokkielekker met briefie wat aan die stokkie vasgemaak is. Varsgebakte hartjievormige koekies is ook ’n goeie idee – en die kinders kan dit help versier.

5. Aandjie uit. Nadat jy bogenoemde aktiwiteit gekies het, kan jy ’n oppasser reël, want kom ons wees nou maar eerlik: Ouerskap beteken nie jy het nie ook soms alleentyd met jou maat nodig nie. As jy nie een kan kry nie, kies ’n ander dag en vier die liefde in jou eie tyd – selfs al is jou idee van dit vier om saam op die rusbank te ontspan.