Nie net is Sakkie Rossouw (50) en sy vrou, Minnie (39), se seun se naam verkeerd by die departement van binnelandse sake geregistreer nie, maar ook sy geslag en geboortedatum.

Pleks van Warren Rossouw, is die kind destyds as Watten geregistreer. Pleks van sy geboortedatum van 13 September 2008, het hulle die maand as Augustus aangedui en is sy ID-nommer daarvolgens uitgereik. Sy geslag word boonop as vroulik aangedui.

warren geboortesertifikaat

“Toe ons die dag by die gebou uitstap het ons gesien daar is ’n fout. Ons is dadelik terug, en ’n werknemer het gesê dit sal ses weke neem om die regstelling te doen, maar twee maande later was dit steeds nie gedoen nie,” sê Sakkie.

So het ’n jarelange proses begin waartydens die egpaar van bakboord na stuurboord gestuur is. Hulle het drie keer verhuis, maar is keer op keer na elke dorp se departement van binnelandse sake.

“Elke keer is ons weggewys of beloof die probleem sal reggestel word,” sê Sakkie.

Na eindelose besoeke aan die departement en pleidooie om die inligting reg te stel, is die egpaar agt jaar later verby die punt van moedeloosheid.

ouers

In ’n stadium moes Minnie ’n beëdigde verklaring van die hospitaal bekom dat Warren wel ’n seuntjie is. Hulle het reeds in September 2014 kontant betaal vir die veranderings wat gedoen moes word, selfs al was die fout nie aan hul kant nie.

“Die blatantheid van die personeel van die departement van binnelandse sake wat jou uitlag terwyl jy die inligting net graag wil regstel, is ondraaglik,” sê Sakkie.

Om sake te vererger het die verkeerde inligting probleme veroorsaak toe Warren verlede jaar laerskool toe is. By die skool in Brixton waar ons hom ingeskryf het, wou hulle hom nie aanvaar nie, omdat hy as ’n meisie geregistreer is.” Hy is eindelik ingeskryf, maar die skool dring met reg op die geboortesertifikaat aan.

seun

“Ons moes ’n bewys van die departement van binnelandse sake bekom voor hy eindelik by die skool ingeskryf kon word,” vertel Sakkie.

Twee weke gelede is Minnie terug na binnelandse sake in Johannesburg. Toe het sy gehoor hulle het geen bewyse van enige betalings wat hulle gedoen het nie en die werknemer sien geen veranderings wat aangebring is nie.

“Die vrou het vir my gesê ek sal die proses van voor af moet begin,” vertel Minnie moedeloos.

’n Verdere skok was dat net twee veranderings op die sertifikaat reggestel kon word en nie drie nie. Om die derde fout reg te stel, moet die hele proses weer van voor af begin en moet hulle weer vir die departement se fout betaal.

“Ek voel hulpeloos en die departement wat jou moet bystaan, staan jou nie by nie. Buitelanders kry beter behandeling as Suid-Afrikaners. Nelson Mandela se droom was dat die jeug moet floreer, maar nou word daar nie na my kind se belange omgesien nie.”

Mayihlome Tshwete, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, is om kommentaar genader.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Marco Spaumer verklap wat deur Tim se kop gegaan het tydens daai skokkende Suidooster-oomblik

Die folky Majozi eersdaags op die Liefde by die Dam-verhoog

Omgekrapte vrou vermorsel peperduur Jaguar met haar peperduur Range Rover

Kyk net wat gebeur as vier mans hoëhakskoene ’n dag lank dra!