Jerzy en Angela Dyczynski se dogter, Fatima, was op Malaysia Airlines vlug MH17, wat vermoedelik deur ’n missiel afgeskiet is. Sy was op pad ba haar ouers in Perth.
'Ons glo sy lewe nog.'

“Ons glo sy lewe nog; ons vlieg vandag Donetsk toe om haar te gaan vind,” het haar pa, ’n dokter, aan die koerant The Australian by Amsterdam se Schiphol-lughawe gesê.

Die Dyczynski’s klou vas aan die hoop dat Fatima, die ramp oorleef het. Die vliegtuig het met 298 mense aan boord onderweg van Amsterdam na Kuala Lumpur neergestort.

Haar pa glo die 25-jarige ruimtewetenskaplike was moontlik steeds in haar sitplek vasgegespe uit die vliegtuig geslinger, wat die impak kon verminder het.

“Ons het ’n aansluitingsvlug Donetsk toe en na die ongelukstoneel. Ons glo sy lewe nog,” het hy bygevoeg.

“Het jy die CNN-berig oor die selfone gesien? Ons gaan,” het hy gesê, moontlik in verwysing na berigte van familielede van slagoffers wat na hul selfoon gebel het en antwoord gekry het.

Die Dyczynski’s, wat mediese en DNS-monsters aan Nederlandse ondersoekers verskaf het, is vasbeslote om na die ongelukstoneel in die ooste van die Oekraïne te reis, al is hulle gewaarsku oor veiligheid; die gebied is onder rebellebeheer.

“Nee, ons is nie bekommerd nie,” het Angela verslaggewers in Kiëf vertel, het die Australiese Associated Press berig. “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ons is in goeie hande.”

Haar man het gesê hy is vasbeslote om sy dogter te vind, wat oorspronklik van Duitsland was.

“Ons gaan na die ongelukstoneel,” het hy gesê. “Ons wil haar gaan soek.”

“Niemand praat oor oorlewendes nie; daar moet ’n rede daarvoor wees. Daar is bewyse dat daar steeds oorlewendes is.

- Sapa