Die ouers van ’n leerder van die Krugerlaan-skool in Vereeniging het ’n saak geopen teen die leerder wat hul kind na bewering geboelie het, het die Gautengse polisie Woensdag gesê.

“Die polisie ondersoek ’n saak van aanranding,” het kapt. Shado Mashobane aan News24 gesê. “Die ondersoekbeampte het vandag die dossier ontvang, so ons sal teen môre ’n vorderingsverslag hê.”

Die uitvoerenderaadslid vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het die skool Woensdag besoek. “Hy het die ouers, die voorsitter van die skool se beheerliggaam en die skool se bestuurspan ontmoet. Die departement verwag ’n verslag van die skool,” het die provinsiale woordvoerder vir onderrig, Phumla Sekhonyane, aan News24 gesê.

“Panyaza het sy teleurstelling uitgespreek oor wat by die skool gebeur het. Hy het gevra daar moet ondersoek word of iemand toesig gehou het en vinnig opgetree word.”

Phumla het gesê die beweerde voorval het Vrydag gebeur by ’n skool vir leerders met leerprobleme. ’n Video van die voorval het blitsvinnig versprei, en die departement het Sondag van die voorval uitgevind.

Die video begin met ’n tiener wat sê hy het toestemming om die seun aan te rand. Dan slaan hy die ander leerder met die hand en vuis en stamp hom met die knie. Wanneer die kamera ’n wyer hoek wys, sien ’n mens die onderwyser by sy lessenaar sit en boeke merk.

Phumla het Woensdag aan Radio Sonder Grense gesê die onderwyser word reeds oor ander klagtes ondersoek.

’n Voormalige leerder het aan News24 gesê hy was net ’n jaar in die skool voor hy weg is, want “hulle sal jou daar doodmaak. Jy het gewone klasse en daarna gaan jy na houtwerk- of bladmetaalklasse. Ek het ouens blaaie metaal sien vat. Hull het stukke van lemme uitgesny, dit met ’n slyper skerpgemaak en weggesteek,” het hy beweer.

Nelmarie Ruysch, wie se seun voorheen in die skool was, het vroeër aan Netwerk24 gesê toe sy oor geboelie kla, het ’n voormalige onderwyser vir haar gesê: “Jou seun is ’n sissie, Kalmeer net, asseblief.”

Nelmarie sê haar seun is gedurig geboelie toe hy 15 jaar oud was. Sy nek is selfs gebrand, beweer sy.

Sy sê sy het dit herhaaldelik onder die skool se aandag gebring, maar ’n onderwyser wat nie meer by die skool werk nie, het vir haar gesê sy moenie ’n bohaai opskop nie.

DIE ONDERWYSER wat oënskynlik nie 'n hand gelig het tydens die onderonsie nie, word ook beskuldig daarvan dat hy leerders aangerand het. Hy word aangekla van aanranding wat verlede maand plaasgevind het.

"Daar was 'n geval waar hy 'n leerder aangerand het en gegrond daarop is hy geskors en 'n boete opgehef" sê Panyaza Lesufi, Gauteng se minister van Onderwys.

"Die onderwyser is gister formeel aangekla op tweede aanrandingsklag"

Die departement het ook nou 'n skorsingsbevel op hom bedien en hy het vyf dae om daarteen protes aan te teken.

Lesufi het aangedui dat hy die onderwyser permanent uit die onderwys wil verwyder.

Bronne: eNCA News24