Die meerderheid ouers sal saamstem niks laat jou oerinstink om te beskerm so sterk na vore kom soos wanneer jy vermoed jou kind is in gevaar nie. Selfs die kalmste ouer sal hand en tand vir hul kind baklei.

spurweer
Maar om dadelik op jou perdjie te spring sodra jy voel jou kind word te na gekom, is nie altyd wys nie, waarsku kenners.

Vra maar die ouers in die berugte Spur-video wat onlangs die ronde gedoen het. Nadat die vrou se kind glo die man s’n op 21 Maart by die Spur in die Glen-winkelsentrum in Johannesburg afgeknou het, het ’n vurige woordewisseling tussen die ouers ontstaan.

Restaurantgangers het geskok toegekyk hoe die twee ouers mekaar luidkeels vloekwoorde toesnou en verskree en hoe die man selfs in ’n stadium dreig om ’n tafel om te keer.

“Nadat ons die video gesien het, was ons geskok dat volwassenes op dié manier kan optree, veral met soveel kinders naby,” het die restaurantgroep in ’n verklaring gesê.

Tog het heelparty mense die ouers verdedig; hulle voel enige ouer sou ’n openbare bohaai opskop as iemand anders se kind hulle s’n afknou.

“Onthou, boelie verwys na herhalende, skadelike gedrag teenoor iemand anders. ’n Eenmalige voorval kan wel gemeen of selfs aggressief wees, maar dit is nie noodwendig boelie nie,” sê Colleen Wilson, ’n stigter en ouerskapskenner van Contemporary Parenting, wat mentorskap en lesse vir ouers bied.

Sy sê ouers moet in emosiebelaaide situasies soos die Spur-voorval kalm wees pleks net reageer. “In dié geval is dit beter om stil te bly en weg te loop, anders maak jy jou skuldig aan ’n woedeaanval wat selfs erger is as jou kind s’n.”

Benader eerder hierdie soort situasie in drie stappe, sê Candice Smith, ook ’n stigter en kenner by Contemporary Parenting.

Vra jou af wat jy uit dié situasie wil kry en wat jy glo die ideale manier is waarop hierdie voorval opgelos kan word. Wat wil jy hê moet jou kind daaruit leer? Laastens moet jy jou afvra of jy kalm genoeg is om die voorval goed te hanteer. As jy te ontsteld is, moet jy en jou kind eerder wegstap.

Nadat jy dié drie stappe gevolg het, behoort jy ’n beter idee te hê oor wat ’n wyse reaksie sal wees.

Hoe benader ek ’n moeilikheidmaker se ouer?

stout kind
As jou kind en ’n vreemdeling se kind baklei, kan jy die ander ouer vra: “Wil jy hê ek moet dit hanteer, of wil jy eerder?” sê Andalene Salvesen, die stigter van Munchkins, wat ouerskapslesse aanbied.

Sou die ander mens dan sê jy mag, is jy net vir jou kind se dissipline en gedrag verantwoordelik, voeg Colleen by. “Sien dit as ’n geleentheid om jou kind iets te leer.” Moenie die ander kind dissiplineer, aanspreek of tug nie.

Stel die regte voorbeeld deur kalm maar ferm te praat en nie jou stemtoon te verhef nie, sê Andalene. “Sê byvoorbeeld vir jou eie kind hulle moet ophou, want ons gryp, slaan of knyp nie in ons gesin nie.”

As jy nie die voorval sien afspeel het nie en ’n ander ouer lig jou in jou kind was die opstoker, kan jy hulle bedank en sê jy sal dit met jou kind bespreek, sê sy ook.

“Jou gesprek met die ouer gaan net sinvol wees as jy kalm bly. As jy opgewerk is, gaan jy waarskynlik ’n ewe aggressiewe reaksie by hulle uitlok,” sê Colleen. Dit kan wys wees om gemeenskaplike terrein te vind deur iets te sê soos: “Ai, hierdie ouerskap-ding kan ’n mens darem soms oorweldig,” sê Colleen.

Gebruik daarna ek-stellings pleks van beskuldigende sinne met “jy” en “jou kind” in. Die gesprek sal vlotter verloop as jy byvoorbeeld sê: “Ek is onseker wat gebeur het. My kind is ontsteld. Ek sal graag die kinders wil help om hul verskille uit te klaar,” pleks van: “Jou kind het my kind ontstel. Hy het dit gedoen en jy moet sorg dat hy jammer sê.”

Moet ek soms bloot uit die situasie wegbly?

raaskry
Kinders word nie gebore met die vermoë om konflik en probleme op te los nie, sê Andalene; daarom is dit nie slim om kinders te los om die situasie self op te klaar of “hul eie battles te fight”, soos baie aanbeveel, nie. Jy mag dus betrokke raak, maar moet dit op die regte manier doen.

“Leer jou kind die goue reëls vir meningsverskille sodat hulle weet hoe om konflik te hanteer.” As ’n rusie dan opduik en jy is nie daar nie, het jou kind die basiese vaardighede om reg op te tree.

“Die belangrikste reël vir kinders is: Jy mag nooit die ander mens fisiek te lyf gaan of seermaak nie.  Jy mag ook nie gil en skree nie en ook nie gemene woorde of kwetsende name as uitweg gebruik nie.

“Leer jou kind hulle mag debatteer, hul man staan, sê wat hulle voel en eerlik wees oor wat hulle dink.”

As jou kind hierna by jou kom huil of kla, moet jy hulle nie vra wat gebeur het of wat die ander kind gedoen het nie; vra eerder wat hy of sy tydens die bakleiery gedoen het, sê Andalene. Fokus spesifiek op jou kind se gedrag pleks van die ander party s’n. “Wat het jy gedoen?” sal jou kind help om sy eie aandeel in die probleem te begryp.

Of jy betrokke moet raak hang af van jou kind se ouderdom en persoonlikheid, sê Candice. As jy altyd ingryp, kan jou kind die indruk kry hulle kan nie self probleme oplos nie. Tog is ouers se leiding dikwels in hierdie soort gevalle nodig.

“Leer jou kind as iemand anders hulle aanhoudend sleg behandel, is dit belangrik om ’n volwassene daarvan te vertel.”

Hoe hou ek my humeur in toom?

skree in pyn
Om koelkop te bly is makliker gesê as gedaan.

“Erken eerstens kinders leer nog, is nie volmaak nie, word maklik aangehits en dat dit normaal is,” sê Colleen. As jy nie vas glo jou kind is volmaak en daarom outomaties reg nie, sal jy nie so vurig reageer om hul onskuld te probeer bewys nie.

Onthou ook dat jy nie iemand anders se woede persoonlik hoef op te neem nie, sê Candice. “Begryp dat dit hul keuse en reaksie is. As hul gedrag disrespekvol of buite beheer raak, moet jy eerder die gesprek beëindig.

“Jy kan aan hulle sê jy kan sien hulle is ontsteld en jy is nie bereid om hieroor te praat as hulle nie kalm is en met respek daaroor kan gesels nie.”

Waarom knou kinders mekaar af?

boelie
“ ’n Kind wat geneig is om ander af te knou is normaalweg ’n ekstrovert en teiken meestal introverte,” sê Andalene.

“Introverte sal nie sommer die bakleiery begin deur fisiek te boelie nie. Hulle sal wel ander terg of irriteer, wat tot ’n rusie kan lei. Die ekstrovert reageer dikwels op dié tergery of irritasie met ’n fisieke reaksie, soos om te slaan, byt of stamp.”

Ouers sien dan net die fisieke reaksie en kyk soms die stille opstoker mis, sê Andalene. Sy sê ook suiker is ’n groot sondaar en is dikwels teenwoordig in openbare speelplekke waar kinders mekaar verkeerd opvryf.

Onthou ook dat swak gedrag dikwels uit stres spruit, sê Candice. “Dit kan nuttig wees om swak gedrag eerder as hulpkreet te sien.”